11 dae gelede
Deure is gou wawyd oop vir breaking
Pop and Lock: Junior Fer­reira met PE’s Finest Dance Crew. FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het onlangs aangekondig dat breaking, oftewel breakdancing, deel sal wees van die Olimpiese Spele in 2024 in Parys.

Volgens ’n paar bekende breakdancers sal dit ’n nuwe revolusie vir breakdancing begin.

Junior “King” Ferreira (23) is ’n lid van PE’s Finest Dance­ Crew.

Hy het al oorsee getoer met breakdancing en sê dis reg dat dié sport nou deel van die Olympics is.

“Mense bly spot dat breakdancing nie ’n sport is nie, maar my argument is dat dit nét so competitive soos enige ander sportsoort is.

“Dit vereis ’n sekere skill level,” het Ferreira verduidelik. “Atlete moet hard oefen om dit reg te kry en daar is ’n fan base ook. Dis dinge wat in ander sportkodes voorkom. So, waar kan dans dan nou nie ’n sport wees nie?”

Kompetisie

Ferreira sê breakdance is iets wat oor vele dekades in movies, ensovoorts, verteenwoordig is, maar ná 2024 se Spele sal dinge verder verander.

“Mense dink breaking is iets wat ’n paar laities op ’n straathoek op ’n stuk cardboard doen. Daar is egter groot kompe­tisies soos die World Champion­ships en die BC One Cypher in Frankryk. Sien, as almal dit by die Olympics gaan sien, glo ek dit sal ’n revolusie vir dans as ’n sport begin.”

Cheslyn Meyer (30) van B-Boy Rhythm en ’n lid van die Déjàvu-dansgroep is nóg ’n danser wat dink dis die regte tyd vir dans om op die Olympics te wees.

Meyer vertel hy dans al 20 jaar en kan nie wag om die Olimpiese Spele in 2024 te sien nie.

“Dit gaan die wêreld van dans net verder vergroot. Ons het reeds dansers wat Suid-Afrika oorsee in kompetisies verteenwoordig, maar nou is daar ’n kans vir dit om deur almal – en nie net die fans nie – raakgesien te word,” het Meyer verduidelik.

Ferreira én Meyer voel daar is beslis meer as genoeg talent – nie net in die Baai nie, maar in die res van Suid-Afrika ook.

“Ons het baie talent en ons het goeie dansers in die land.

“Ek is seker ons sal ’n span hê wat baie competitive sal wees teen enige ander land,” het Meyer gesê.

Breaking het reeds verlede jaar sy debuut op die Olimpiese verhoog gemaak as deel van die Jeug Olimpiese Spele in Buenos Aires.

Dit was toe een van die gewildste byeenkomste op die Spele.

Die Jeug Olimpiese Spele se formaat het head-to-head dans battles gehad, wat die voorgestelde formaat vir die Olimpiese Spele in 2024 sal wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters