13 dae gelede
Del Potro in die wolke oor final
vegter: Juan Martín del Potro is verheug oor sy sege oor Rafael Nadal.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DAAR was die laaste paar jaar tye dat Juan Martín del Potro gevrees het hy sal nooit weer tennis speel nie.

Hy het nie eens daaraan gedink dat hy weer in die eindstryd om ’n Grand Slam-titel betrokke sal wees nie.

Die 29-jarige Argentyn se deursettingsvermoë en weiering dat beserings hom onder kry, is beloon met ’n plek in die eindstryd van die Amerikaanse Ope.

Hy sal vandag probeer om dié titel vir ’n tweede keer te verower.

Del Potro het nege jaar gelede laas in ’n Grand Slam-eindstryd teen Roger Federer gespeel.

Die huidige Wimbledon-kampioen, Novak Djokovic, is vandag Del Potro se teenstander.

Djokovic is die gunsteling om die titel te wen.

Del Potro het sy halfeindstryd gewen toe Rafael Nadal weens ’n kniebesering die handdoek ingegooi het.

Die Argentyn was in elk geval op pad om te wen en het met 7-6 en 6-2 voorgeloop.

Djokovic het in Vrydag se ander halfeindstryd maklik met Kei Nishikori afgereken. Die telling was 6-3, 6-4 en 6-2.

“Hierdie is my gunsteling-toernooi. Ek kan nie glo ek kry weer die kans om hier in ’n eindstryd te speel nie.

“Dit sal ’n uitdaging wees, maar dis ook baie spesiaal vir my,” het Del Potro gesê. “Ek moes baie probleme oorkom om tot hier te vorder.” – Reuters

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters