4 maande gelede
Defence is die sleutel
DOELGERIG: Casemiro van Brasilië maak seker oor sy pass terwyl die Argentyn Germán Pezzella verdedig. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

BRASILIË sal graag sy goeie verdedigende vertoning teen Peru vandag in die Copa America-eindstryd wil voortsit.

Die verdedigende middelveldspeler Casemiro sê sy span sal die titel wen as hulle, soos in hulle vorige wedstryde in die toernooi, vir Peru geen kanse gee nie.

Die gasheerspan het nog nie in die toernooi ’n doel afgestaan nie. Dit sluit in toe hy Peru vroeër in die kompetisie met 5-0 in hulle groepwedstryd geklop het.

Om ’n negende Copa-titel te lig sal dit deurslaggewend wees om hulle doelhok skoon te hou, meen hierdie Real Madrid-man.

“Om die kompetisie te beëindig sonder om ’n doel af te staan is een van ons doelwitte,” sê Casemiro.

“En as ons nie ’n doel afstaan nie, is dit nie net te danke aan die verdedigers nie, maar ook die voorspelers. Hulle help ook net so baie om ’n verskil te maak.”

Kopskoot

Die dwarslat het ook Brasilië gered in sy halfeind-oorwinning met 2-0 oor Argentinië.

Roddy Zambrano, die ref wat geweier het om na twee VAR-versoeke van Lionel Messi en sy spanmaats te luister toe hulle gedink het hulle verdien ’n strafdoel, het ook gehelp.

Sergio Agüero het in die eerste helfte die dwarslat getref met ’n kopskoot en Messi het ook die dwarslat in die tweede helfte getref.

Brasilië se kaptein, Dani Alves, en die middelveldspeler Arthur het albei met strafbare tackles in die area weggekom teen die Manchester City-spelers Agüero en Nicolás Otamendi onderskeidelik.

Argentinië het oor die skeidsregter se optrede in die halfeindstryd by Conmebol, die Suid-Amerikaanse sokker­beheerliggaam, gekla.

Daar het egter niks van gekom nie.

Dit los Messi en sy landgenote nou met nóg ’n groot teleurstelling. – SuperSport.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters