16 dae gelede
Dayaan en Mustapha skop gat
DAYAAN CASSIEMFoto’s: GALLO IMAGES  ~ 

JY KAN met die eerste kyk die pot mis sit deur die broers Dayaan (21) en Mustapha (18) Cassiem vir die nuwe generasie se models en glamour boys aan te sien.

Wanneer die Cassiem-broers egter die hokkieveld betree, kan jy sien waar hul ware talente lê.

En terwyl talle tieners op die ouderdom van 17 en 18 nog probeer om hul lewe en toekoms uit te map, maak die Cassiem-broers reeds groot golwe op plaaslike én internasionale vlak vir in die groen-en-goud van Suid-Afrika.

Dis bewys toe Dayaan op die ouderdom van net 18 sy SA hokkie-kleure teen Nederland bekom het.

Sy jonger broer, Mustapha, het dit vermag op die ouderdom van net 17, teen Amerika.

Boonop het die Cassiem-broers van die Central-hokkieklub in Rylands dit vermag in beide die indoor en outdoor scene.

“Dit was voor my home fans op Hartleyvale met my ouers ook teenwoordig, en dit was magical,” herleef Dayaan sy debuut.

“Toe ek my eerste touch gegee het – ’n solid pass – het ek vir myself gesê: ‘Dayaan, jy kan dit doen en geniet net jouself’,” vertel hy.

Dis ook geen geheim dat die duo in die voetspore van hul pa, Abdul Aziz, volg nie. Hy was self gedug en het sy SA kleure tydens die Sacos-era verdien.

Al is daar heelwat hokkietalent in die jong Cassiems se gene, word niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

“My pa herinner ons elke dag ‘hard work beats talent’,” wys Dayaan, wat ook vir Gladbach in Duitsland speel, uit.

“Vir ons is dit belangrik om altyd ’n 100% te gee wanneer ons oefen en speel.

“Ek onthou tydens die Desembervakansie, toe almal op ’n break was, het ek en my broer nog ontsettend hard gewerk om ons fiks te hou.

“My pa se ondersteuning en aanmoediging hou ons ook op ons tone.

“Ek dink dis dié tipe benadering en toepassing vir ons passie wat ons op só ’n vroeë ouderdom gehelp het om SA caps te kry.

“Ons hou ook nie daarvan om te verloor nie. Dis wat ons meer dryf om sukses in ons lewe te behaal,” voeg Dayaan by.

Dayaan en Mustapha, wat afkomstig is van Mitchells Plain, moes ook alle comforts en familiebande agterlaat toe albei ’n kans van ’n leeftyd gekry het om met ’n beurs by die hoogaangeskrewe Bishops College te gaan leer.

Die broers, wat ’n hegte familieband het, sê dit was nie maklik om hul geliefdes, soos hul ma, Quddoosiyah, en suster, Noeriya (Jedaar), agter te laat om hul loopbaan as hokkiespelers na nuwe hoogtes te neem nie.

“Jô! Ek dink beslis ons skuif van Mitchells Plain en Hoërskool Trafalgar na Bishops was nou nie juis ’n dream come true nie. Dit was meer die harde werk wat beloon is vir só ’n geleentheid waarna elke kind met ’n droom werk,” vertel Dayaan.

“Ek moet bieg en sê die transformasie na ’n meer bevoorregte set-up was aanvanklik moeilik vir ons, maar later het ons goed aangepas.

“Ek dink dis ook vanweë ons goeie ondersteuningsnetwerk, wat mense insluit soos mnr. Warren Wal­lace, Jason Mulder, Simon Kilpin en die vriende saam met wie ek voorheen gespeel het, dat ons met ope arms verwelkom is.

Verbeter

“Al kom ons van baie humble beginnings en ’n minderbevoorregte area, was die skuif na ’n meer bevoorregte omgewing beslis iets waarna ons gestrewe het.

“Dit het ongetwyfeld ons spel verbeter en ons meer exposure gegee. Daar was baie meer geleenthede vir ons en dis hoe ons raakgesien is en hoe ons die kans gekry het om SA te verteenwoordig.

“ ’n Mens kan nie die rol ontken wat Bishops in ons loopbane speel nie. Net om daar te wees, hou jou op jou tone, jy weet. So, big thumbs up aan hulle!” meen Dayaan.

Volgens hom is daar, soos met die meeste broers, “gesonde” rivalry tussen hulle.

“Ons word gedurig geterg oor wie beter is tussen ons twee, maar aan die einde van die dag is ons daar om mekaar te help en beter spelers te word.

“Dis ook om mekaar te laat goed lyk op die veld, want ons het albei dieselfde doelwit – en dis om te alle tye goed te vaar.

“Daar is definitief ’n gesonde wedywering tussen ons, maar aan die einde van die dag is dit om mekaar goed te laat lyk en deure oop te maak vir mekaar,” benadruk Dayaan.

Hy sê dis ’n jammerte hulle sal nie ’n kans kry om SA by hul eerste Olimpiese Spele te verteenwoordig nie weens die erge corona-virus-pandemie.

“Kyk, mense se lewe kom eerste. Boonop gee dit ons kans om meer tyd met ons familie te spandeer,” sluit Dayaan af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters