11 dae gelede
Currie Cup is steeds grootste kompetisie
John Dobson  ~ 

AL WORD ál die aandag vanjaar op die World Cup in Japan toegespits, bly die Currie Cup steeds die voorste kompetisie in die land

Dié gewilde kompetisie met sy roemryke tradisie word vanjaar vir die 81ste keer aangebied.

Die aksie begin Vrydag. Die eindstryd word op Saterdag 7 September beslis.

Omdat die wêreldskouspel later vanjaar voorlê, sal die sewe plaas­like aanspraakmakers elkeen net een keer in die groepfase teen mekaar speel. Die vier topspanne sal dan na die uitspeelrondes deurdring.

Die Sharks en Westelike Provinsie het die laaste twee jaar sake in die eindstryd uitgespook. Die span van Durban het die Streeptruie laas jaar op Nuweland in die eindstryd met 17-12 geklop.

Die Kapenaars het die Durbaniete die vorige jaar op Kings Park in Durban met 33-21 gestuit.

Met ál die talent tot hulle beskikking behoort die twee spanne vanjaar minstens weer die semi’s te haal.

Dis egter nie ’n uitgemaakte saak nie, want die Bulls, Leeus en Cheetahs staan ook ’n goeie kans om die knockouts te haal.

Van die Stormers, Bulls, Sharks en Lions se beste spelers sal egter by die Springbokke in die Rugby Championship en by die World Cup betrokke wees.

Die Cheetahs se bestes speel weer in die Pro14-kompetisie. Dit beteken dat spanne soos die Pumas en Griekwas op volsterkte sal wees.

Hulle kan dus nie onderskat word nie en kan op hulle dag vir ’n paar verrassings sorg.

Mentor

John Dobson het aangebly as die WP-breier, terwyl Sean Everitt by Robert du Preez as die nuwe coach van die Sharks oorneem.

Pote Human is steeds by die Bulle. Ivan van Rooyen sal die Leeus se mentor wees.

Daan Human is die Cheetahs se coach. Brent Janse van Rensburg, voorheen by die Pumas, is nou by Griekwas. En Jimmy Stonehouse gaan die Pumas vanjaar weer brei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters