4 maande gelede
Crusaders tops in super-riller
KOOKWATER: TJ Perenara was weereens eersteklas vir die Hurricanes.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

IN EEN van die beste Superrugby-halfeindstryde in jare­ het die Crusaders na die eindstryd deurgedring met ’n naelbyt-sege van 30-26 oor die Hurricanes.

Dit was ’n riller van begin tot einde en die wedstryd was tot in die doodsnikke nog in die weegskaal.

Die voormalige Springbok-kaptein John Smit sê dit was ’n fantastiese wedstryd, maar bitter hartseer dat daar ’n verloorder moes wees.

Verdien

“Ons het altyd geweet daar gaan ’n verloorder wees.

“Op die dag se spel het die Hurricanes ook verdien om eindstryd toe te gaan,” het hy gesê.

Die Crusaders, wat in die rustyd met 13-5 voor was, is enduit gedruk deur ’n Hurricane-span wat eenvoudig net nie wou ophou veg nie.

Elke keer wanneer die Crusaders gaan druk het, het die Hurricanes teruggeslaan met ’n drie.

Trouens, só fel was die Canes se aanslag dat hulle vier drieë gedruk het teenoor die drie van die tuisspan.

Daar is verwag dat die Crusaders redelik maklik sou wen omdat die Canes die vorige naweek teen die Bulls nie werklik beïndruk het nie.

Die stryd op losskakel is in die aanloop tot die wedstryd beskou as die groot hoogtepunt. Dit het ook geensins teleurgestel nie.

Die Crusaders se Richie Mo’unga en Beauden Barrett van die Hurricanes was op hulle beste.

Hulle het weer gewys waarom hulle die wêreld se beste spelers in die nr. 10-trui is.

Op die dag se spel het Barrett dalk net die meeste regmerkies verdien.

Sevu Reece het vir die Crusaders twee drieë gedruk, terwyl die Canes­ se Ngani Laumape ook ’n tweekuns aan drieë behaal het.

Die beste speler op die veld was egter ongetwyfeld die Canes-skrumskakel, TJ Perenara.

Hy was 80 minute lank briljant en behoort nou loshande die All Blacks se eerste keuse vir die Wêreldbeker-toernooi in September in Japan te wees.

Crusaders – drieë: Sevu Reece (2), Richie Mo’unga; doelskoppe: Mo’unga (3); strafdoele: Mo’unga (3).

Hurricanes– drieë: Ngani Laumape (2), Ben Lam, TJ Perenara; doelskoppe: Beauden Barrett (3).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters