3 maande gelede
Crusaders op pad
laag GELAK: Daar is net geen deurkomkans vir die Lion-senter Lionel Mapoe nie.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE Crusaders is tans onkeerbaar op pad na ’n tiende Superrugby-titel.

Die manier hoe hulle die Lions Vrydagoggend in Christchurch met 36-10 geklop het, onderstreep weereens dat geen span hulle gelyke­ is nie.

Ja, vir die Lions was die skielike onttrekking van hulle inspirerende kaptein, Warren Whiteley, ’n groot terugslag, maar dit is geen ver­skoning vir ’n span wat nooit gelyk het asof hy die tuisspan kon skrikmaak nie.

Aangeslaan

En as die Crusaders nie die bal twee keer op die Lions se doellyn aangeslaan het met ’n vyfpunter wat wink nie, kon die telling veel hoër gewees het.

Die Crusaders se oorheersing word weerspieël in die vyf drieë teenoor een wat hulle gedruk het.

Die vleuels George Bridge en Sevu Reece het elk twee keer afgerond.

Die Lions se vertoning het min gedoen om Springbok-ondersteuners moed te gee dat die All Blacks later vanjaar by die Wêreldbeker-toernooi in Japan geklop kan word.

Die Lions het twee van hulle drie wedstryde oorsee verloor en is nou op pad terug na Suid-Afrika.

Die span het volgende naweek ’n loslootjie voordat hy die Waratahs op 11 Mei op Ellispark pak.

Dis nie bekend hoe lank Whiteley op die kantlyn sal wees nie.

Die span vaar net soveel beter met hom op agsteman. Sy invloed is dus geensins te versmaai nie.

CRUSADERS – drieë: Braydon Ennor, Sevu Reece (2), George Bridge (2); doelskoppe: Richie Mo’unga (4); strafdoel: Mo’unga.

LIONS – drie: Ruan Combrinck; doelskop: Elton Jantjies; strafdoel: Jantjies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters