22 dae gelede
Crowie: SA moet beter
MIK: Bongani Zungu van Suid-Afrika oorheers Namibië se Petrus Shitembi tydens hulle Afrikabeker-stryd.Foto: BACKPAGEPIX  ~ 

DIT was ’n gehuff en gepuff, maar Bafana Bafana kon darem toe uiteindelik Namibië se huisie wegblaas.

Stuart Baxter (afrigter) en sy Bafana Bafana-troepe se Afrika­beker-veldtog hang egter steeds aan ’n fyn draadjie.

Bongani Zungu het Suid-Afrika Vrydag ’n naelskraapse sege van 1-0 in die Al Salam Stadion besorg, maar dit waarborg beslis nie sy kwalifikasie vir die uitkloprondes nie.

Suid-Afrika kort ’n positiewe uitslag teen Marokko môre (18:00) in die spanne se laaste groep D-wedstryd om sy kanse lewend te hou.

Bafana kan ook steeds kwalifiseer as een van vier spanne met die beste derde plek.

Dus soek SA ’n gelykop uitslag teen Hervé Renard (afrigter) se Marokko. Vir Bafana sal dit beslis soos ’n sege oor dié gedugte span van Noord-Afrika wees.

Dít wil gedoen wees, veral as ’n mens in ag neem hoe Marokko die Ivoorkus Vrydag gestuit het.

Dis duidelik Suid-Afrika kom nie naby Marokko wat gehalte en ver­tonings betref nie. Baxter sal egter net ’n manier móét vind om meer uit sy spelers te kry, veral wat hulle kreatiwiteit op die aanval betref.

Die tekort aan kreatiwiteit is vir die hoeveelste keer blootgestel toe hulle gesukkel het om ’n minnow-span soos Namibië (113de in die wêreld) te klop.

Bafana het ook pretty much hulle geluk gery. Dis toe Buhle Mkhwanazi ná die uurmerk sy Wits-spanmaat Deon Hotto Kavendji se skoot op die doellyn gekeer het om die telling 0-0 te hou.

Die prentjie kon heelwat anders gewees het as Namibië met dié poging sukses behaal het.

Dis veral die Kaapse sokkerlegende en voormalige Bafana Bafana-midfielder Duncan Crowie wat daarvan oortuig is die nasionale span móét baie beter doen.

“Ek dink ons fans verdien meer van die nasionale sokkerspan,” meen Crowie.

“Ons moet ’n klein span soos Namibië oortuigend klop met vyf doele of meer, nie sukkel-sukkel nie.

“Ons pak Marokko next. Eish! “Natuurlik wil ek hê ons moet deurgaan. Die fans wil dit ook hê en dis belangrik vir ons om in die toernooi te bly.

Lugballe

“Ons kan wegkom met ’n draw, maar dan sal die span beslis moet opskerp, want Marokko is ’n perd van ’n ander kleur,” het Crowie afgesluit.

Dis tyd dat Baxter spelers met kreatiwiteit inspan, soos Thulani Serero.

Nét so moet die breier vir Lars Veldwijk op die aanval gebruik om die manne van Suid-Afrika meer opsies met lugballe te gee.

Veldwijk se fisieke spel kan ook die regte doepa wees om die klipharde en intelligente spelers van Marokko te stuit.

’n Draw is egter ononderhandelbaar, want SA móét minstens die tweede ronde haal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters