2 maande gelede
CPUT wil Varsity Cup speel
opskudding: CPUT verras almal deur die Varsity Shield-eindstryd in die Baai te wen.Foto: THEO JEPTHA  ~ 

DIE Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) se oorwinning Donderdagaand in die Varsity Shield-eindstryd was amper ’n skok vir die breier, Ricky Petersen.

Die Kaapse span het die Madibaz, wat nog die hele seisoen onoorwonne was, in hulle eie Madibaz-stadion geklop om sy eerste Shield-titel te verower.

CPUT was tot op die nippertjie agter in die stryd. Dis toe dat George-Lee Erasmus weggebreek het vir die wendrie.

“My eerste woorde toe ek by CPUT begin het, was om vir die spelers te sê ons gaan die Shield wen. Nou dat dit gebeur het, het dit nogal ook so ’n dag of twee gevat om in te sink.

“Ja, dis ongelooflik wat gebeur het, maar ons het tog daarvoor gewerk,” sê Petersen.

Al was die Madibaz onoorwonne, sê die breier, het hulle nie na die wedstryd gegaan asof hulle dit nie kan wen nie.

Mikpunt

Ná hulle oorwinning voel Petersen daar lê steeds baie werk voor.

“Dié is ’n tweejaarplan. Ons mikpunt is om in die Varsity Cup te kom. Om dit te bereik, moet ons volgende seisoen bo die Madibaz op die puntelys eindig.

“Dit is ons groot doel en dié is alles die begin om daardie mikpunt te bereik,” sê hy.

Petersen verduidelik hulle sukses het ook gekom deur ’n familie-atmosfeer in die span te skep. “Dit is ook hoe ons volgende seisoen sal moet speel as ons verder wil gaan in die kompetisie.”

Die Varsity-kompetisie het ’n promosie- en relegasiestelsel wat oor twee jaar strek. Spanne kan dus net elke tweede jaar tussen die Cup en Shield beweeg.

Al het die Madibaz dus vanjaar loshande bo-aan die log geëindig, sal hulle dit weer volgende seisoen moet doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters