3 maande gelede
Conley reg vir rugby
haastig: Alyssa Conley in aksie tydens­ die SA kampioenskapsbyeenkoms. Sy gaan nou kyk of haar spoed die Blitsbok-vroue na sukses kan help. Foto’s: GALLOIMAGES  ~ 

UITSONDER­LIKE spoed op die punte.

Dít is die nuwe strategie van Paul Delport, afrigter van Suid-Afrika se sewesrugby-vrouespan.

Delport, self ’n voormalige Blitsbok, het onlangs die wenkbroue laat lig met die aankondiging dat hy die naelloper Alyssa Conley recruit het om haar by die Blitsbokke se vrouespan aan te sluit.

Kunsies

Conley is natuurlik ’n bekende naam in atletiekkringe. Sy is ’n voormalige SA kam­pioen en het Suid-Afrika in 2016 by die Olimpiese Spele in Rio verteenwoordig.

Sy het haar in Maart in Stellenbosch by die SA Sewes­akademie aangesluit, waar Delport en Tim Qumbu, ’n wetenskaplike wat in mens­like bewegingskunde spesialiseer, haar die fynere kunsies van rugby touwys gemaak het.

“Ons is verbaas oor hoe vinnig sy aanpas,” het Delport vandeesweek in ’n onderhoud met Son op Sondag gesê.

“Ons is baie opgewonde oor haar integrasie (van atletiek na rugby). Alyssa het my siening rondom atlete verander.

“Sy het ook baie goed in spanverband aangepas en is baie gewillig om te leer, wat baie verblydend vir ons is.

“Omdat sy so baie natuur­like spoed het, wil ons haar graag aanwend op vleuel, soortgelyk aan wat Amerika en Engeland met Carlin Isles en Perry Baker doen.

“Ons moet egter seker maak ons skep vir haar spasie aan die buitekant,” vertel Delport opgewonde.

Isles en Baker is natuurlik twee van die vinnigste sterre in die Sewes-wêreldreeks en klop dikwels hulle opponente met hulle spoed aan die buitekant.

Die 28-jarige Conley sê op haar beurt dat sy die nuwe uitdaging baie geniet.

“Ek is baie opgewonde om hier te wees. Ek het nog nooit vantevore aan ’n rugbybal geraak nie. Ek het ook nog nooit aan ’n spansport deelgeneem nie en ek het ook nie juis voorheen rugby gekyk nie.

“Tim het my in Augustus gekontak en die moontlikheid aan my genoem, maar om eerlik te wees, was ek nie juis opgewonde oor die kans om rugby te speel nie.”

Conley sê dat nie veel ná daai eerste meeting in Pretoria gebeur het nie – totdat sy weer in Maart vanjaar van Qumbu gehoor het.

“Ek het in Maart aan ’n atletiekbyeenkoms deelgeneem (en gewen), maar dié keer was daar iets missing. Ek was nie meer opgewonde soos voorheen nie.

“Die passie en adrenalien het ontbreek en dit was die eerste keer in 21 jaar dat ek so oor atletiek gevoel het.

“By die Gautengse provin­siale kampioenskapsbyeenkoms daarna het ek dieselfde leë gevoel gehad en weer absoluut geen opwinding ervaar nie. Ná daai Saterdag het ek Tim én Paul gekontak en hulle laat weet dat ek die rugby-ding ’n go sal gee,” vertel ’n opgewonde Conley.

Nuus uit Stellenbosch is dat Conley, wie se persoonlike beste ’n tyd van 11.23 sekondes oor 100 m is, eers stelselmatig geïntegreer sal word en die plan is dat sy teen September losgelaat sal word.

Dit blyk Delport en kie span tans die net wyd in hulle soeke na “natural athletes” om vrouerugby in Suid-Afrika te versterk.

Roeier

Delport het Catha Jacobs en Kelly van der Berg ook onlangs nader getrek en albei is by die groep ingesluit wat volgende week in Frankryk aan twee toernooie deelneem.

Jacobs is ’n voormalige roeier, terwyl Van der Berg haar naam in touch rugby gemaak het.

Die SA vrouespan vir toernooie in Frankryk: 1. Rights Mkhari, 2. Christelene Steinhobel, 3. Buhle Sonomzi, 4. Snazo Mcat­shulwa, 5. Sizophila Solontsi, 6. Catha Jacobs, 7. Zinhle Ndawonde, 8. Mathrin Simmers, 9. Zenay Jordaan, 10. Nadine Roos, 11. Eloise Webb, 12. Kelly van der Berg, 13. Snen­hlanhla Shozi, 14. Zintle Mpupha (k).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters