8 dae gelede
Cobras kry net nie ’n break nie
Mokerman: George Linde in aksie teen die Warriors.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIS asof al die krieketgode verby Ashwell Prince en sy Cape Cobra-krieketspan kyk.

As dit nie die weertoestande is nie, is dit sy spelers se nasionale verpligtinge – en nou ook ’n kwotaherrie.

Die Cobras se wedstryd Donderdag teen die Warriors op Nuweland het onbeslis geëindig.

Dis nou al die Kapenaars se derde wedstryd in die meerdaagse reeks van franchise-krieket wat onbeslis klaarmaak.

Hulle eerste wedstryd het in ’n nederlaag teen die voorloper, die Lions, geëindig.

Teen die Warriors het die Cobras ook nie aan Krieket Suid-Afrika (KSA) se vereiste voldoen om drie etniese swart spelers by die span in te sluit nie.

Net die naatboulers Thando Ntini en Tladi Bokako is by die Cobras se elftal ingesluit.

Debat

Die Cobras se CEO, Nabeal Dien, sê hulle het KSA drie dae voor die wedstryd ingelig oor hulle besluit wat die spankeuse betref.

Dit het egter die debat oor die kwotastelsel onder die soeklig geplaas.

Die vraag is of die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) die kwessie ter tafel wil lê vir die skrapping daarvan.

Dit was ’n kwessie daarvan om Matthew Kleinveldt te vervang met die sukkelende Aviwe Mgijima.

Kleinveldt het ’n week gelede 175 lopies teen die Dolphins aangeteken. Hy het sy goeie spelpeil voortgesit teen die Warriors deur 92 lopies aan te teken.

Die Cobras se drie Proteas, Dane Piedt, George Linde en Zubayr Hamza, het ook teruggekeer.

Vyfde

Selfs die draaier George Linde, wat onlangs in Indië sy toetsdebuut vir die Proteas gemaak het, het sy eerste eersterangse honderdtal (122) teen die Warriors aangeteken.

Die Cobras lê nou met 43,78 punte in die vyfde plek. Die War­riors is vierde met 54,78.

Dit was ook die voormalige Protea-draaier Robin Peterson se eerste wedstryd in beheer as waarnemende breier van die Warriors.

Hy is nou amptelik in beheer van die Baaise span nadat Rivash Gobind bedank het.

Die meerdaagse reeks hervat eers weer op 19 Desember.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters