24 dae gelede
Coach-wedloop wawyd oop
Rassie ErasmusFoto: gallo images  ~ 

RASSIE Erasmus moet ná vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Japan ’n besluit neem oor wie sy verantwoordelikhede as afrigter van die Springbokke gaan oorneem.

Erasmus, wie se hoofsaak­like taak eintlik direkteur van rugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie is, kan egter reeds een naam van sy lys kandidate skrap.

Swys de Bruin, breier van die Lions, het met sy emosionele ineenstorting gewys dat die taak om die Bokke af te rig, dalk net ’n té hoë plafon vir hom is.

Hy moes op aanbeveling van die Lions se spandokter, Rob Collins, na Suid-Afrika terugkeer aan die vooraand van sy span se Superrugbywedstryd teen die Chiefs.

Die rede vir die ineenstorting is glo die Lions­ se erge gesukkel om wedstryde te wen en die hulpafrigter Joey Mongalo se skuldigbevinding aan onsedelike aanranding. Dít in ’n Australiese hof.

De Bruin se besluit om huis toe te keer terwyl sy span in ’n krisis was, het die rugbypubliek in skok gelaat.

Daar is verlede jaar berig dat De Bruin die groot gunsteling is om by Erasmus as die volgende Springbok-afrigter oor te neem.

Die name van Deon Davids (die Southern Kings se afrigter) en Johan Ackermann (Gloucester-breier) word ook sterk met die pos van volgende Bok-afrigter verbind.

Radar

Davids en Ackermann behoort nou die gunstelinge vir die rol te wees, met De Bruin wat op Superrugbyvlak gewys het dat hy dalk nie die pyp kan rook nie.

Daar is ook – soos gesien van die aanspraakmakers – nie veel plaaslike kandidate op Erasmus se radar wat sommer die job kan doen nie.

Die kanse is egter baie skraal dat Erasmus ’n breier gaan aanstel wat van ’n ander land afkomstig is.

Internasionale breiers is ook onbekend met die politieke spektrum van SA sport, waar transformasieteikens deel van hulle KPA’s sal vorm.

Erasmus sukkel tans self om die voorgestelde 50% swart verteenwoordiging in die Bokke se beginspan te bereik – iets wat hy al tot ’n kuns moet ververfyn wanneer die Wêreldbekertoernooi in Japan aanbreek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters