16 dae gelede
Coach Ashwell vra vir veranderinge
harde woorde: Ashwell Prince­ is die Cape Cobras se breier. Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

MET die plaaslike krieketseisoen wat môre begin, vra Ashwill Prince dat ’n stelsel van promosie-relegasie ingestel word.

Prince, afrigter van die Cape Cobras, het harde woorde gehad vir franchise-spanne wat “negatiewe” taktiek gebruik wat dikwels op onbesliste uitslae uitloop.

Krieket Suid-Afrika gaan aan die einde van die seisoen die fran­chise-stelsel skrap. Dit gaan met ’n provinsiale stelsel vervang word.

Prince het Vrydag in ’n bespreking oor die Cape Cobras se planne vir die 2019-2020-veldtog ’n pleidooi tot die land se krieketbase gerig.

Hy het ook aangekondig Pieter Malan sal in die afwesigheid van die gereelde kaptein, Dane Piedt, die Cobras vir die eerste drie wedstryde in die meerdaagse reeks aanvoer. Piedt is ’n lid van die Proteas wat tans in Indië toer.

Prince meen spanne wat laaste eindig, moet beboet of gerelegeer word.

“Die manne weet daar is geen gevolge nie, al eindig hulle laaste. Jy kan beslis nie teen die elemente soos reën veg nie.

“Maar wanneer spanne met negatiewe tipe spel vorendag kom en vir ’n draw speel, is daar geen waarde daarin dat jy in ’n kompeterende liga speel nie.

“Jy hoort nie daar nie. As ons die sport tot die volgende vlak wil neem, moet jy kompeterend wees,” het Prince gesê.

Prince en sy troepe kom vandag in Potchefstroom aan waar hulle van môre teen die Lions speel.

Die breier sê terwyl dit betreurenswaardig is dat die Cobras in die nuwe bedeling sal verdwyn, moet daar na die nuwe uitdagings gekyk word.

“Ons moet gaan kyk na die geleenthede wat die nuwe bedeling bring.

“Dit baat nie ons gaan lank dwaal op dít wat nie meer daar is nie.

Silwerware

“Ek wil graag na die toekoms kyk. Na my mening sal daar baie meer geleenthede wees, veral vir afrigters en spelers,” sê Prince.

Oor sy span se kanse om dié seisoen silwerware onder sy beheer huis toe te bring, sê hy. “Daar is geen waarborge in die samelewing nie. Wat ek wel kan sê, is ons is gereed om die seisoen met volle vertroue aan te durf.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters