4 maande gelede
City, Reds vol planne
BERNARDO SILVA Foto’s: GETTY IMAGES  ~ 

VERBY is die dae toe die Community Shield niks meer as net die begin van ’n Engelse Premierliga-seisoen aangedui het nie.

Dit is omdat die groeiende wedywering tussen spanne soos Manchester City en Liverpool vandag se stryd in die Wembley-stadion veel meer opspice en betekenis gee.

Dis veral waar ná laas seisoen se kop-aan-kop-wedloop vir die Premierliga-kroon.

Almal sal nog lank praat oor die span wat 97 punte ingesamel en steeds nie die liga gewen het nie.

Eweknie

Die ironie van die spanne se sukses in die vorige seisoen is ook só opvallend: City, wat die liga-titel verower het, se hart brand om die Reds se sesde Champions League-kroon in die hande te kry.

Pep Guardiola, City se bestuurder, weet ook sy eweknie van ’Pool, Jürgen Klopp, sal dié seisoen met ’n enorme poging vorendag kom.

Een aspek is vir seker – City en Liverpool speel albei om te wen. Dít maak die kragmeting ’n moet-kyk-affêre.

En vandag se 97ste weergawe van die charity-stryd is ook maar net een van talle waarin City en Liverpool dié seisoen teen mekaar te staan gaan kom.

En as laas seisoen se veldtog enige vuurwerk verskaf het, sal die nuwe een beslis ook nie teleurstel nie. Veral ook nie terwyl Guardiola en Klopp nog in beheer van hulle onderskeie spanne is nie.

Dit gaan interessant wees om te sien hoe die twee bestuurders vandag se stryd gaan benader. Gaan Guardiola die stryd begin met gereelde spelers soos Sergio Agüero, Bernardo Silva, Gabriel Jesus en Kevin de Bruyne?

Silva gaan beslis ’n doring in Klopp-hulle se vlees wees met sy dreigende runs van buite die middelveld tot binne-in die doelgebied. Dié Portugees is besonder goed met die bal by sy voete en dit klou soos gom.

Wat gaan Klopp op sy beurt maak? Met Sadio Mané eers môre terug, gaan Mohamed Salah, Alisson en Roberto Firmino, wat laat teruggekeer van die Afrikabeker-toernooi en die Copa América, Pool se beginspan haal?

Of sal Klopp volstaan met sekere van die jong fringe-spelers wat beïndruk het op hulle voorseisoense toer in Amerika?

’n Speler soos Adam Lallana, wat Liverpool nog baie skuld vir die geduld wat die sokkerklub met hom het, is volgens Klopp heel goed op dreef.

Aksie

Net só sal Xherdan Shaqiri ook bestendiger moet vertoon in sy cameo’s en kan die kampioen vandag probleme skep.

Die feit van die saak is dat albei die gesoute sokkerbase reeds ’n plan van aksie vir die seisoen uitgelê het.

Die trademark van ’n goeie span en bestuurder is dat hulle elke final wen waarin hulle speel – of dit nou vir charity of vir keeps is.

Kom ons kyk maar hoe Guardiola en Klopp se koppe tick met ’n baie lang en veeleisende seisoen wat voorlê!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters