16 dae gelede
City knou Bucs se liga-hoop
DRIESTRYD: CT City se Craig Martin probeer Pirates se Innocent Maela (nr. 23) en Vincent Pule fnuik vir balbesit. Foto: BACKPAGEPIX  ~ 

BENNI McCarthy het gedeliver op sy promise.

Dit was toe dié afrigter van Cape Town City en sy troepe Orlando Pi­rates ’n bloedneus gegee het in die titel-wedloop gister in ’n stampvol Athlone-stadion.

Ja, City het nie die sege verkry soos verwag nie, maar die feit dat hy twee punte van Pirates kon neem, is net so goed.

City het met 10 minute oor nog met 1-2 agter geloop.

Craig Martin het sy doelvernuf vertoon en weer tot City se redding gekom. Sy puik kopskoot het sake met 2-2 gelykop gemaak.

Pirates se Wayne Sandilands verdien ook krediet vir sy goeie ver­toning om vir Pirates ’n punt te verseker.

Sandilands het twee fantastiese stukkies keerwerk uitgevoer om Pirates laat in die stryd te hou.

McCarthy het nie te veel aan sy span getorring vir die stryd teen die Buccaneers nie.

Die Mosambieker Edmilson Dove, Gift Links en Chris David is het die groen lig gekry vir die stryd.

Die Citizens het ’n droom-begin gehad toe Zukile Kewuti kort ná die beginfluitjie bloed geruik het.

Thembinkosi Lorch het Peter Leeuwenburgh in die City-doelhok geklop om sake gelykop te maak.

In die tweede helfte het Pirates die tempo versnel en die tuisspan in sy eie helfte begin vaspen.

’n Blaps deur die jong Keanu Cupido het Vincent Pule toegelaat om met sy tweede poging die bal in die City-doelhok te bêre.

Beloon

Tot City se krediet het hy ook nie laat slaplê nie.

Hiervoor is die Citizens beloon toe Martin ’n run klinies afgerond het met ’n kopskoot om sake gelyk te maak. City het hierna meer druk toegepas, maar Sandilands het uitstekend vertoon.

City het nou nie gewen nie, maar dis ’n goeie stryd vir die neutrals met end-to-end aksie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters