22 dae gelede
Cissé: Ons nié gunstelinge
Aliou CisséFoto: GALLO IMAGES  ~ 

SENEGAL se afrigter, Aliou Cissé, sukkel om die media en die publiek te oortuig sy span is nie een van die gunstelinge om die Afcon-toernooi te wen nie.

Sy spelers het egter dalk nou per ongeluk die werk vir hom gedoen, want Donderdagaand het die Leeus van Teranga beslis nie na ’n potensiële kampioen gelyk nie.

Dit was toe hulle toegelaat het dat Algerië hulle boelie met sy meer fisieke benadering tydens hulle nederlaag van 1-0.

Hulle moet Kenia nou in hulle laaste groep C-wedstryd klop om vir die ronde van 16 te kwalifiseer, sonder om op ander uitslae te wag.

Die manne van Senegal is omtrent heeltemal in Europa gebaseer. Hulle het hope talent en ervaring met spelers soos Liverpool se Sadio Mané, Keita Baldé van Inter Milaan en Napoli se Kalidou Koulibaly.

Hulle geniet ook besonderse stabiliteit met Cissé.

Cissé verduidelik dat Senegal, wat nog nooit die Afcon-toernooi gewen het nie, beslis nie as gunsteling beskou kan word nie.

“Mense bly praat oor Senegal se gunstelinge,” het Cissé voor die stryd gesê.

“As ek die resep gehad het om die toernooi te wen, sou ek nie vir enige iemand vertel het wat dit was nie.

“Om vir die Afrikabeker te speel, is ingewikkeld. Die toestande is moeilik, wedstryde is moeilik en jy moet meer as net gereed wees.”

Die breier noem wel dat die spelers wat hy het, besonders is.

“Dié generasie van 2019 is ’n buitengewone een met baie goeie spelers, maar dit beteken nie dat ons die gunstelinge is nie. Die gunste­linge is die spanne wat die toernooi reeds voorheen gewen het,” meen hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters