16 dae gelede
Chippa kry ’n hupstoot
in die kol: Rhulani Manzini het die Chilli Boys op die regte pad gekry teen Polokwane City. Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Chilli Boys het gister in die Peter Mokaba-stadion hulle kanse op oorlewing in die PSL ’n hup­stoot gegee deur Polokwane City met 3-1 te klop.

Volgens die Chippa-breier, Clinton Larsen, moes sy span die stryd wen om enige kans op oorlewing te hê.

Daarom is dit geen wonder die Chilli Boys het weggetrek met niks anders as doele op die brein nie.

Chippa se top-doelskieter, Rhulani Manzini, het sy span ná net 12 minute op koers gekry.

Polokwane City het ook nie stil gesit nie. Sy doelskieter Mohammed Anas het in die 28ste minuut dinge gelyk gemaak.

Ongelukkig vir Polo­kwane wou Chippa net die gaan lê nie. Die verdediger Donashano Malama het kort voor die rustyd Chippa se voorsprong herstel.

Die telling het 2-1 gebly tot die 62ste minuut toe die middelveldspeler Tercious Malepe die Chilli Boys se derde doel aangeteken het.

Die uitslag is baie belangrik, veral met die magtige Kaizer Chiefs wat wag as Chippa se laaste teenstander van die seisoen.

Dié uitslag skuif Chippa ook op uit die 15de plek na die 13de plek.

Chippa het tans 27 punte wat hom op gelyke voet plaas met Free State Stars en Black Leopards.

Die Chilli Boys is tog bo – juis as gevolg van hulle drie doele teen Polokwane wat hulle ’n beter doeleverskil gee as Stars en Leopards.

Stars en Leopards het ook albei met 1-1 gelykop gespeel in hulle wedstryde teen Chiefs en AmaZulu onderskeidelik

Maritzburg United, wat in die laaste plek (16de) is, het SuperSport United gister met 3-1 geklop. Dit plaas hulle een punt agter Stars, Leopards en Chippa. Dit beteken relegasie gaan eers op die laaste dag van die PSL beslis word.

Baroka FC, wat met ’n punt in die 12de plek en net bo Chippa is, kan ook steeds val.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters