8 dae gelede
Chippa kan nog ’n baroka pull

DIE Chilli Boys wil ’n Baroka FC trek: Hulle wil die Telkom Knock­out (TKO)-titel wen en in die Premiersokkerliga (PSL) oorleef.

Chippa United pak Mamelodi Sundowns vandag in die Nelson Mandelabaai Stadion in die kwarteindronde van die TKO.

Dít kom nadat hy in dié kompetisie sy eerste oorwinning van die seisoen behaal het deur Bloemfontein Celtic met 1-0 te klop.

Die Chilli Boys is steeds sonder ’n oorwinning in die PSL. Die span is in die laaste plek.

Tog het Norman Mapeza, breier van Chippa, gesê hulle fokus is nou by die TKO.

“Ons weet almal wat Chippa se fokus is, maar ons volgende game is teen Sundowns in die TKO. So, ons moet daardie wedstryd probeer wen.

“Daarna worry ons weer oor die PSL.”

Hy het gesê as Chippa Sundowns klop, sal dit help met die span se PSL-veldtog.

“As ons weer ’n oorwinning behaal, sal die spelers se confidence terugkeer. Dit sal ons ’n hupstoot gee wanneer ons verder veg vir oorlewing in die PSL.

Werk

“So, die wedstryd is eintlik baie belangrik.”

Mapeza dink sonder te veel talent in sy span moet hulle met ’n positiewe ingesteldheid deur die wedstryde kom.

“Vir ons om enige goeie uitslae te behaal, moet ons eerstens op en van die veld hard werk.

“Dit moet met ’n goeie mentaliteit gepaard gaan.”

Die aanvallende middelveldspeler William Twala dink Chippa kan nes Baroka ’n seisoen terug die TKO wen en oorleef.

“Baroka het nes ons gesukkel. Hy het in die TKO ’n goeie lopie bymekaar gesit en aan die einde vir Orlando Pirates in die Nelson Mandelabaai Stadion geklop. Ek dink ons kan dieselfde doen.”

Sundowns het tot dusver dié seisoen nog net een nederlaag in plaaslike kompetisies beleef.

Kaizer Chiefs het Sundowns onlangs met 2-0 in die PSL geklop. Dit was Pitso Mosimane se span se eerste swak uitslag.

Chippa het Sundowns vroeër die jaar in die Nedbank Cup met 2-1 geklop. So, daar is hoop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters