3 maande gelede
Chiefs laat Crusaders in Suva gly en val
vreugde: Die Chiefs se spelers celebrate hulle oorwinning oor die Crusaders in Suva. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE kat is nou weer behoorlik in die duiwehok as dit by kwalifikasie vir Superrugby se uitspeelrondes kom.

En dis alles danksy die Chiefs se wonderbaarlike terugvegpoging vanaf ’n agterstand van 20 punte om die Crusaders met 40-27 te klop.

Selfs Quade Cooper van Australië en die Melbourne Rebels kon nie sy bewondering vir gister se uit­stekende wedstryd in Suva, Fidji, onderdruk nie.

“So ’n bietjie hartseer dat daai wonderlike wedstryd tot ’n einde moes kom,” het Cooper getwiet.

Vir moontlike toekomstige Superrugby-wedstryde op eilande soos Suva was die kragmeting ook ’n fantastiese advertensie.

Die Crusaders sal egter verpletter wees, want hulle gooi amper nooit ’n voorsprong weg nie.

Hulle was ná net 20 minute se spel met 20 punte voor danksy drieë deur Scott Barrett, Mitchell Drummond en Sevu Reece. Richie Mo’unga het ook met ’n strafdoel geslaag en die Barrett-drie verdoel.

Wanneer twee Nieu-Seelandse spanne mekaar pak, moet ’n mens egter maar altyd gereed wees vir die onvoorspelbare.

Verdoel

En dis wat gister deur die Chiefs opgedis is in hulle poging om nog vir die play-offs in vanjaar se opwindende kompetisie te kwalifiseer.

Vanaf die 29ste minuut was dit toe alles Chiefs, met Solomon Alaimalo, Samisoni Tuakei’aho en Jesse Parete se drieë, waarvan twee deur Jack Debreczeni verdoel is. Dit het die Chiefs terug gebring in die stryd.

Die Crusaders het toe weer kort ná die rustyd gaan druk toe Braydon Ennor agter die doellyn gaan kuier het.

Die Chiefs was egter baie honger vir sukses in dié wedstryd.

Brad Weber, Shaun Stevenson en Tumua Manu het toe gaan druk om die Chiefs van die oorwinning te verseker.

Intussen het die Brumbies hulle eerste plek in die Australiese konferensie gekonsolideer deur die Sunwolves maklik met 42-19 te klop.

Die Rebels het Vrydag met 15-20 teen die Waratahs in die hek gaan duik en daar is nou groot druk op Dave Wessels (afrigter) se span om vir die eerste keer in die franchise se geskiedenis vir die play-offs te kwalifiseer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters