23 dae gelede
Cheetahs laat Sharks skrik
op die aanval: Ali Mgijima van die Cheetahs trek vasberade weg met ’n sterk lopie. Foto: gallo images  ~ 

DIE taak is suksesvol verrig, maar dit was toe nie so maklik soos die Sharks se rugbyspan gedink het nie.

’n Jong en onervare Cheetah-span het die Sharks in ’n Currie­bekerwedstryd in Bloemfontein lelik laat skrik.

Die Sharks het met 33-29 gewen en vyf drieë teen vier gedruk, maar sal baie verlig wees om met dié sege weg te kom.

“Dit is waardevolle ligapunte weg van die huis af vir ons, maar ons kon nie lekker aan die gang kom nie,” het die Sharks se kaptein, Chiliboy Ralepelle, gesê.

“Die Cheetahs het daarin geslaag om ons te ontwrig. Ons was nie akkuraat in ons bewegings nie.”

Karakter

Volgens die Cheetahs se kaptein, Rudi Paige, kon sy span dié een gewen het.

“Dissipline het ons gekos, maar ons het karakter gewys,” het hy gesê.

Die Sharks het die stryd om balbesit oorheers, maar daar was min struktuur aan hul aanvalle.

Hulle moes staatmaak op dryfmaalbewegings om die moedige Cheetahs te sink in ’n wedstryd vol hanteerfoute.

Puntemakers:

SHARKS – drieë: Lwazi Mvovo, Chiliboy Ralepelle (2), Wian Vosloo, Daniel du Preez; doelskoppe: Robert du Preez (4).

CHEETAHS – drieë: Louis Fouché (2), Lloyd Greeff, strafdrie; doelskoppe: Fouché (2); strafdoel: Fouché.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters