2 maande gelede
Celtic klap Chippa
OP DREEF: Frédéric Nsabiyumva van Chippa United probeer die bal van Bloemfontein Celtic se aanvallers weghou. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Chilli Boys is amper sekerlik op pad om gerelegeer te word nadat hulle 2019 met nóg ’n nederlaag afgeskop het.

Bloemfontein Celtic het Chippa Vrydag in die Sisa Dukashe-stadion met 0-1 geklop.

As dít die manier is hoe die span gaan aanhou, is daar net relegasie wat voorlê.

Dié uitslag beteken Chippa is nou segeloos sedert Oktober en die nuwe breier, Joel Ma­sutha, se tyd is seker ook nou maar min.

Masutha was sover in beheer van ses stryde, maar kon nog net drie gelykop uitslae behaal.

Dis nie goed genoeg vir Chippa nie – tans 15de op die log.

Die span kort natuurlik oorwinnings en Masutha weet dit, maar hy voel die klub is onder druk en dit maak alles net soveel moeiliker.

“Nie net is ék onder druk nie, die klub is. Ons is in ’n gevaarlike situasie en ons moet verbeter as ons daar wil uit kom. Ongelukkig sukkel die span om kanse te vat,” sê hy.

Masutha se span het weer nie té sleg gespeel nie, maar dit was nie genoeg nie.

Met die transfer window oop, kan die span na ander opsies gaan kyk.

Koop

“Ons is besig om na opsies te kyk, maar dit gaan nie help om net enige beskikbare spelers in te bring nie. Ons moet spelers kry wat ons gaan kan help.

“Ons kan nie net doele koop as ons ’n doelskieter koop nie. Die span skep doelgeleenthede, maar ons sit dit nie weg nie. Wat help dit dus ons koop nóg ’n doelskieter.”

Chippa laat sekere spelers tans gaan. Dis dus moontlik om plek te maak vir nuwe spelers. Die verdediger James Okwuosa, Chippa se oudkaptein, is eerste om plek te maak nadat die span sy kontrak gekanselleer het.

Daar is ook gerugte dat Thabo Nthethe, voormalige Mamelodi Sundowns-speler, die volgende is om sy plek te verloor.

Chippa sukkel in alle aspekte van die spel en sal doelskieters én verdedigers moet kry.

Ongelukkig is daar geen tyd vir Chippa om asem te skep nie, want Dinsdag moet hy Orlando Pirates in die Orlando-stadion probeer stuit.

Soos Chippa se peil tans is, lyk dit glad nie goed nie, maar met beter fokus en toewyding kan hy dalk net die Buccaneers klop.

Dit sal die klub ’n hupstoot gee, want ná dié wedstryd moet die sukkelende Chippa Sundowns in die Nedbank Cup pak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters