25 dae gelede
Canes storm verby Chiefs
MIKKE: Jordie Barrett reageer ná sy suksesvolle poging pale toe vir die wen.  ~ Getty Images

DIE Chiefs is hulle eerste plek kwyt in die Nieu-Seelandse afdeling van Superrugby.

Jordie Barrett se strafdoel in beseringstyd het die Hurricanes Vrydag gehelp om die Chiefs op hulle tuisveld met 27-24 te klop.

Dit was ’n wipplankstryd wat die fans heeltyd op die punte van hul stoele sou laat sit het.

Die twee spanne se kompeterendheid en intensiteit het ook vroeg die aptyt gewek vir die res van die naweek se wedstryde. Veral met die on­sekerheid of daar vanaf volgende week enige Superrugby-aksie gesien gaan word.

Die Nieu-Seelandse regering het reeds aangekondig dat ál sy grense nou gesluit verklaar is.

Dit is om te sorg dat die verspreiding van die lewensgevaarlike coronavirus beheer kan word.

Sanzaar, dié kompetisie se beheerliggaam, moes teen gister nog bevestig of daar verder enige rugby gespeel gaan word.

Ander sportsoorte regoor die wêreld het ook reeds wedstryde óf afgelas óf tot ’n latere stadium uitgestel.

Maar terug na Vrydag se aksie in Waikato – die Canes het met hulle sege oor die Chiefs gewys hulle kan nog nie afgeskryf word as potensiële aanspraakmakers op dié jaar se Superrugby-titel nie.

Die span uit Wellington (Nieu-Seeland) het met dié wen ook opgemaak vir die teleurstellende nederlaag wat hulle die vorige naweek teen die Blues gely het.

Die Chiefs sou egter gal braak oor verskeie beslissings deur die skeidsregter, Jaco Peyper, wat in hulle guns moes wees. Daarenteen het die Chiefs ook te min gedoen om dié een te wen nadat hulle in ’n stadium gerieflik met 24-14 voorgeloop het.

Puntemakers:

HURRICANES drieë : Ben Lam, Fletcher Smith, Asafo Amua; doelskoppe : Jordie Barrett (3); strafdoele : Barrett (2).

CHIEFSdrieë: Lachlan Boshier, Tumua­ Manu, Shaun Stevenson; doelskoppe: Damian McKenzie (3); strafdoel: McKenzie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters