15 dae gelede
Boland vanjaar se Iqhawe-week champ
CHAMPS: Boland baljaar nadat die manne die Iqhawe-week-titel verower het. Foto’s: MARK WARD  ~ 

BOLAND se manne is vanjaar se Iqhawe-week-kampioen.

Die jong Bolanders het Donderdag in warm toestande die Griekwas in die eindstryd van die weeklange toernooi vir o. 15-spanne geklop.

Maar die Bolanders moes in die tweede helfte op die sportterrein van Paarl Gimnasium omtrent wal gooi om die Griekwas van hulle doellyn weg te hou.

Boland was in die rustyd met 26-5 voor, maar kon net ’n strafskop van Roman Newman in die tweede helfte byvoeg.

Die Bolanders, wat deur Alfredo Barends afgerig word, het vuur en vlam in die hitte begin en was binne net 12 minute reeds met 19-0 voor.

Die manne van Kimberley het egter kort voordat hulle die koelte van die kleedkamer gaan opsoek het, ’n drie gedruk.

Michail Damon, die Boland se woelige skrumskakel, het twee van sy span se vier drieë gedruk.

Intussen kon die Oostelike Provinsie nie daarin slaag om die span van KwaZulu-Natal te klop nie.

Die Baaienaars het met 15-26 in die uitspeelstryd om die derde plek vasgeval.

Die span van Ashwill Stride (afrigter) was in die rustyd met 10-12 agter, maar het kort ná die rustyd die voortou geneem.

Dit was egter Dino Boesak, die OP se losskakel, wat die kalklig gesteel het met goeie algehele spel.

Boesak is ’n gr. 9-leerder by die Hoërskool Mary Waters in Grahamstad. Hy het sy span se eerste drie gedruk en was ook in die kol met twee doelskoppe en ’n strafskop. Hy is beslis ’n speler wat gaan naam maak in die toekoms.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters