2 maande gelede
Boland-breier Kenia toe
verlore vir sa: Henley du Plessis gaan klubrugby in Kenia afrig. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIT is hartseer om ’n Bolander van formaat te verloor, maar Henley du Plessis gaan met die seëning van sy ou unie sy afrigtingsloopbaan in Kenia voortsit.

Du Plessis is laas week as die nuwe afrigter van die Keniaanse klub Kabras Su­gar aangestel.

Hierdie klub is een van Keniaanse rugby se suksesvolste spanne.

Du Plessis, wat in 2009 die oorgang van speler – vir die Kavaliers – tot afrigter gemaak het, is vir drie jaar as Kabras se afrigter aangestel. Hy het luidens ’n artikel op katrosbrand.com reeds vanaf Wellington na Kenia verhuis.

Du Plessis se vertrek sal ’n gevoelige terugslag vir die Kavaliers wees, maar luidens die unie is daar geen kwade gevoelens oor sy vertrek nie.

Die Kavaliers het gister hul veldtog in die Currie­beker se Eerste Liga afgeskop met ’n wedstryd teen die Oostelike Provinsie.

Du Plessis kon egter voor sy vertrek hand bysit in die span se voorbereiding.

Die Kavaliers moet nog aankondig wie Du Plessis as Randall Modiba, hoofafrigter, se regterhand sal vervang.

Vir ’n klein unie soos die Boland kan daar nie juis nou al oor ’n plaasvervanger onderhandel word nie.

Boland en ander Eerste Liga-spanne, behalwe die OP, kry vanjaar minder geld van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters