17 dae gelede
Bokke kort ‘meer’
DrieËVRAAT: Cheslin Kolbe is Vrydag as die speler van die wedstryd teen Italië aangewys. Die enkelbesering wat hy aan die einde van die game opgedoen het, is gelukkig nie te ernstig nie.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

SHIZUOKA. – Suid-Afrika se vertoning teen Italië was nog nie tegnies akkuraat en klinies genoeg vir ’n span wat die World Cup wil wen nie.

Die Bokke het hulle gesag fisiek teen die Azzurri afgedwing.

Dit het Rassie Erasmus (afrigter) se span Vrydag tot ’n oorwinning van 49-3 hier in die Ecopa Stadion in ’n groep B-kragmeting oor Italië gehelp.

As Erasmus en sy manne verder in die kompetisie wil vorder, is daar aspekte van hulle spel wat aansienlik opgeknap moet word.

Die coach het Vrydag ná sy span se vertoning gesê: “Dit was beslis nie perfek nie. Een van die dinge wat ons met die 6-2-split op die bank probeer het, was om met ’n fisieke aanslag vorendag te kom.

“Ek dink ons het ’n paar taktiese en tegniese foute gemaak. Die manne het egter fisiek opgedaag. En dit is wat ons graag van dié game wou hê.

“As ons héélpad wil gaan, is dit beslis iets wat ons in ons game wil hê. Ons het gevoel in ons vorige toetse wat ons vanjaar gespeel het, was ons net nie bestendig genoeg nie.

“Ek dink in dié spesifieke toets was ons fisieke teenwoordigheid een van ons sterk punte. Ek is baie trots daarop.”

Siya Kolisi, Bok-kaptein, het sy spelers geprys vir hulle toegewyde vertoning.

Hy sê: “Om ’n man soos Beast (Tendai Mtawarira) so gretig te sien om vir ’n strafskop te skrum en hoe opgewek hy daaroor raak, inspireer ons as ’n span ongelooflik.

“Ons sal aan ons aanvallende spel werk, maar ons weet dat ons fisieke spel altyd goed is. Dit maak nie saak of dit lelik is of nie, solank ons net ??oor die doellyn kan kom,” het die kaptein bygevoeg.

Suid-Afrika moet Dinsdag met Kanada in Kobe afreken.

Daarna is dit ’n lang wag tot die kwarteindronde.

“Ons was baie senuagtig oor dié game teen Italië omdat ons geestelik ingestel is op uitklopwedstryde,” het die Bok-mentor gesê.

“Wanneer jy in dié stadium van die kompetisie kom, raak almal maar ’n bietjie nervous.

“Een boksie kry nou nog ’n regmerkie.

“Ná die game teen Kanada is daar hopelik nog drie wedstryde met dieselfde mindset in terme van intensiteit, verwagtinge, druk en groot oomblikke,” het Rassie by­gevoeg.

Cheslin Kolbe, blitsige regtervleuel van Suid-Afrika, het nie net twee skitterdrieë teen die Azzurri gedruk nie, sy lugspel was deurgaans uit die boonste rakke. Hy is agterna welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Volgens die 25-jarige van Kraaifontein is die enkelbesering wat hy aan die einde van die game opgedoen het, nie te ernstig nie.

“Ek het dit net ’n bietjie geswik. Dit behoort fine te wees,” het hy gister laat hoor.

Hy sê oor sy vertoning: “As ’n buite-agterspeler is dit uiteraard ex­cit­ing om die bal in die wye kanale te kry.

“Ons sien daarna uit. Ek moet ál die krediet aan ál die boys gee vir die harde werk wat hulle insit,” het Kolbe bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters