22 dae gelede
Bokke is favourite
Gevaarmanne: Japan se twee spoedvrate Kenki Fukuoka (regs) en Kotaro Matsushima hou ’n groot bedreiging vir die Bokke in. Foto: Gallo Images  ~ 

TOKIO. – Vier jaar gelede by die World Cup in Engeland is Japan se oorwinning oor die Springbokke in Brighton as ’n skoksege beskou.

Daardie uitslag word steeds as een van die grootste opskuddings in die geskiedenis van wêreldrugby beskou.

Sedertdien het albei spanne ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Die Springbokke onder Rassie Erasmus, as afrigter, het ongelooflike vordering gemaak.

Gasheerland

Daarteenoor het Japan by vanjaar se skouspel in sy eie agterplaas gewys hy is beslis nie meer die walkover wat hy voorheen was nie.

Die gasheerland het vriend en vyand verras deur ál sy games in groep A te wen en bo-aan die puntelys te eindig.

Jamie Joseph (afrigter) en sy manne het Rusland, soos verwag is, in hulle eerste game met gemak met 30-10 getroef.

In die tweede kragmeting het die Brave Blossoms vir die opskudding van die toernooi gesorg toe hulle die wêreld se nr. 2-span, Ierland, met 19-12 verneder het.

Daarna het hulle Samoa met 38-19 kafgedraf voordat hulle in hulle laaste groepwedstryd Skotland met 28-21 uit die toernooi geboender het.

Vertroue

Japan het dus die groepfase onoorwonne afgesluit en welverdiend sy plek in vandag se kwarteindstryd bespreek.

En wanneer die gasheerland vandag hier in die Tokio Stadion teen Suid-Afrika in die laaste kwarteindstryd van die toernooi te staan kom, sal dit nie vergesog wees dat hy beslis vol vertroue sal wees dat hy ’n baie goeie kans staan om die Bokke te klop nie.

Al het Erasmus en sy manne die warm-up game teen Japan voor die toernooi gemaklik met 41-7 gewen, het Japan met sy vertonings in die toernooi gewys hy’t geweldig baie gegroei en ontwikkel.

Hy het gewys hy kan balbesit vir lang periodes behou.

Michael Leitch (kaptein) se span speel die spel teen ’n ongelooflike hoë tempo. Hy spog met besonderse vaardighede en het die vermoë om die bal in kontak te offload.

Dit skep die spasie vir Japan se spoedvrate Kenki Fukuoka en Kotaro Matsushima om verwoesting te saai wanneer hulle in besit gestel word.

Joseph en sy hulpafrigter, Tony Brown, is uitgeslape breiers wat met slim taktiek vorendag sal kom om die verwagte fisieke aanslag van die Bokke af te weer.

Joseph is ’n voormalige All Black-losvoorspeler wat baie in sy speeldae teen Erasmus te staan gekom het.

Hy het erken dat hy presies weet wat om van die Bokke te verwag en het oor dié uitdaging gesê: “Dit is duidelik wat Suid-Afrika graag wil doen met die keuse van ses voorspelers op sy bank.

“Dit is nie uniek nie, maar dit wys dat hulle ons graag fisiek met hulle groot voorspelers sal wil oordonder.

“Ons weet presies wat ons kant toe gaan kom en het daarvolgens voorberei.”

Erasmus was vandeesweek vol lof oor die vordering wat Japan as ’n rugbynasie gemaak het.

Die Bok coach het egter gesê hy glo sy span bly die gunsteling om die Japannese se paartie voor hulle tuisskare te bederf.

Hy is dus vol vertroue dat sy span net te veel skietgoed vir Japan sal hê.

Die Bokke behoort dus gemaklik na volgende week se halfeindstryd deur te dring.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters