3 maande gelede
Bokke 2018: ’n Jaar van ups en downs
Trane van Vreugde: ’n Emosionele Pieter-Steph du Toit,, een van die Bokke se groot uitblinkers vanjaar omhels sy spanmaat Bongi Mbonambi na die Bokke se epiese sege oor die All Blacks in Wellington.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Bokke se skoksege teen alle verwagtinge in oor die All Blacks in Nieu-Seeland was ongetwyfeld die groot hoogtepunt van die jaar.

Voor dié geskiedkundige oorwinning met 36-34 oor die aartsvyand op 15 September in die Westpac-stadion in Wellington, het die Bokke vernederende nederlae teen Argentinië en Australië in die Rugby Championship gely.

Niemand het Siya Kolisi (kaptein) en sy manne ’n kat se kans gegee om die gedugte All Blacks in hulle eie agterplaas te klop nie.

Rassie Erasmus, Bok-breier, se span het egter die ondenkbare reggekry deur die wêreldkam­pioen te troef.

Twee weke later het die Bokke egter ’n gulde geleentheid in Pretoria weggesmyt om die All Blacks in agtereenvolgende toetse te klop. Die Bokke het vir die grootste deel van die toets die oorhand gehad en dit het gelyk asof hulle Steve Hansen (afrigter) se span weer ore sou aansit.

Die Kiwi’s het egter nooit tou opgegooi nie en ’n naelskraapse sege van 32-30 behaal.

Die Bokke se vertonings teen die manne in swart sou dus hulle fans baie hoop vir volgende jaar se World Cup in Japan gee.

Die realiteit is egter dat Erasmus se span se vertonings vanjaar heeltemal te wisselvallig was.

Die span het net 7 van sy 14 toetse gewen. Dit beteken die Bokke se coach het die jaar met ’n teleurstellende slaagsyfer van slegs 50% geëindig.

Gemeet

Ná die Bokke se teleurstellende nederlaag van 11-20 in hulle laaste toets teen Wallis op die jaareindtoer van Europa, het Erasmus erken sy span het nie altyd die mas in sy eerste jaar opgekom nie.

Dit maak egter nie saak wat vanjaar gebeur het nie. Die Bok-coach is ten volle bewus daarvan dat sy sukses gemeet gaan word aan wat by volgende jaar se World Cup in Japan gaan gebeur.

Die toernooi vind van 20 September tot 2 November plaas.

Daar bly egter net vyf toetse oor voor die afskop van die skouspel vir Erasmus om sy span reg te ruk.

Die Bokke gaan twee weke voor die toernooi ’n opwarmingstryd teen die gasheerspan, Japan, speel.

Voor dié stryd gaan Suid-Afrika in ’n verkorte weergawe van die Rugby Championships Australië op 20 Julie op Ellispark in Johannesburg aandurf.

Daarna reis die Bokke na Nieu-Seeland, waar hulle weer ’n kans gaan kry om hulle epiese sege – soos in September vanjaar – oor die All Blacks in Wellington te herhaal.

Twee weke later, op 10 Augustus, gaan die Bokke die Pumas in Argentinië pak voordat dié twee spanne ’n week later op Loftus Versfeld in Pretoria weer swaarde gaan kruis.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters