25 dae gelede
Blues ransel Lions af
IN PYN: Mediese werkers help Manuel Rass in die wedstryd gister op Eden Park om op die draagbaar te kom.  ~ Getty Images

VIR Manuel Rass het die rugbyseisoen gister straks ten einde geloop nadat hy ’n ernstige beenbesering in die Lions se Superrugbywedstryd teen die Blues opgedoen het.

En net soos Rass moet die Lions se Superrugby-veldtog dalk ook in die siekeboeg geplaas word nadat hulle met 10-43 op Eden Park in Auckland verloor het.

Dit is nou die derde agtereenvolgende nederlaag op toer vir die Lions en ook hulle vyfde dié seisoen.

Die Gautengers moet nog een wedstryd speel voordat hulle na Suid-Afrika terugkeer. Dit is nou as Sanzaar, die beheerliggaam van dié kompetisie, wedstryde nie gaan uitstel nie.

Dis weens die globale uitbreking en verspreiding van die lewensgevaarlike corona-virus.

Die Lions is heeltemal oordonder in gister se kragmeting.

Dié driemalige Superrugby-finaliste is duidelik nou weer in ’n massiewe herboufase.

Tuisskare

Dit lyk ook of dit nog sommer baie lank gaan neem voordat die Gautengers soos van 2016 tot 2018 in ’n gedugte span gaan ontwikkel.

Die Blues, aan die ander kant, lyk nou weer soos ’n span wat gerespekteer moet word. Hulle het nou vier wedstryde agtereenvolgens gewen.

Dit was ook hulle vyfde wen dié seisoen en hulle eerste voor hulle tuisskare nadat hulle vroeër in die kompetisie teen die Chiefs en Crusaders in Auckland verloor het.

As Superrugby voortduur, sal die Lions eerskomende Saterdag in Dunedin teen die Highlanders te staan kom.

Dít is dalk hulle beste kans vir ’n sege, want die Highland­ers sukkel ook om aan die gang te kom.

Puntemakers:

BLUESdrieë: Rieko Ioane (2), Stephen Perofeta, Gerard Cowley-Tu­ioti, Hoskins Sotutu; doelskoppe: Otere Black (3), Harry Plummer; strafdoel: Black.

LIONSdrie: Dan Kriel; doelskop: Elton Jantjies; strafdoel: Jantjies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters