27 dae gelede
Blitsbokke verloor eintlik teen hulself
Als vergeefs: Justin Geduld druk in die doodsnikke ’n drie, maar dit het toe vir niks getel ná sy verbroude doelskop nie.  ~ Gallo Images

DAAR was vandag in die vroeë oggendure nog ’n kans dat die Blitsbokke die halfeind van die Wêreldreeks se sewesrugby­toernooi in Hamilton, Nieu-Seeland, kon haal.

Daai kans moes egter as baie skraal beskou word nadat Suid-Afrika sy groep B-wedstryd teen Engeland met 19-21 verloor het.

Engeland se laaste game van die groepfase was vanoggend (ná druktyd) teen Japan, wat die Blitsbokke gister met 31-5 geklop het.

Die Blitse moes vanoggend nog teen Kenia speel, maar ’n wen sou hulle waarskynlik net van ’n tweede plek in hulle groep verseker het.

Anders as die toernooie in Dubai en Kaapstad – wat oor drie dae beslis is – word die Hamilton-ronde net oor twee dae beslis, met geen beker-kwarteindstryde nie.

Dit volg omdat ’n Wêreldreekstoernooi vir vroue ook daar aangebied word. Die organiseerders voel dit sou vir te veel wedstryde vir twee dae se rugby sorg.

Om die formaat te probeer blameer vir die Blitsbokke se mislukking om ’n derde agtereenvolgende halfeindronde van ’n toernooi te haal, sal egter as ’n swak verskoning gesien word.

Neil Powell (afrigter) se Blitsbokke was teen Engeland hulle eie worst enemy deur ’n voorsprong van 14-0 in die water te gaan gooi.

Stedman Gans (kaptein) en JC Pretorius het die game se eerste twee drieë gaan druk, met Branco du Preez wat albei verdoel het.

Die Engelse het toe stelselmatig terug in die wedstryd gekom om met twee minute se spel oor met 21-14 voor te loop.

Justin Geduld het toe in die doodsnikke ’n haas uit die hoed gepluk en gaan druk, maar dit was vergeefs.

Geduld – normaalweg betroubaar met sy skopwerk pale toe – het vinnig van ’n moontlike hero tot zero gegaan toe hy net skuins vanaf die regter-regoppaal nie die bal tussen die mik kon laat deurseil nie.

Dis hoogs onwaarskynlik dat Japan die Pommies vanoggend sou klop. Dit beteken die Blitse sal nou hoop om ten minste as die beste tweede geplaaste span uit een van die toernooi se vier groepe of tweede beste tweede geplaaste span vir die uitspeelwedstryd (en dus die vyfde plek) te kwalifiseer.

Powell het ná die eerste dag ook beaam sy span het net nie opgedaag vir die game teen die Engelse nie.

“Ons was nie goed genoeg nie, veral in daai tweede helfte. Ons het basies teen onsself gaan staan en verloor en kan net onsself blameer vir die momentum en dat ons beheer weggegee het,” het Powell gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters