11 dae gelede
Blacks kry sege nr. 3
DRIETYD! Jack Goodhue druk vir die All Blacks in hul Rugby Championship-wedstryd teen Argentinië in Nelson in Nieu-Seeland.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE All Blacks het gister gewys hulle kan met lelike rugby ook gemaklik wen deur Argentinië in Nelson in Nieu-Seeland met 46-24 te klop.

Dit was die Kiwi’s se derde sege met ’n bonuspunt in vanjaar se Rugby Championship.

Die vertoning het egter glad nie vir ’n breë glimlag op die All Black-kaptein, Kieran Read, se gesig gesorg nie.

Read was glad nie gelukkig met sy span se verdediging nie.

Die Poemas het ook goed gekompeteer by die breakdown.

Die All Blacks is ook gedwing om meer tackles te maak en die Suid-Amerikaners het ook ordentlik druk in die lyn­stane toegepas.

Volgens Read was sy spanmaats boonop te oorhaastig om drieë te gaan druk deur té gou té wyd te probeer speel.

Nogtans het ’n All Black-span, waarin verskeie naasbestes speelkans gekry het, ’n manier gevind om teen die einde met meer as 20 punte te wen.

Ander ligpunte vir die All Blacks is dat verskeie naasbestes, en veral Shannon Frizell, die steelkantflank, hulle kans aangegryp het om te impress.

Frizell het voor sy provinsiale span, Tasman Mako, se tuisskare gewys hy kan die leemte vul wat die uitge­trede Jerome Kaino gelaat het.

Hy’t nie net in die wyer kanale die verdediging laat bontstaan nie, hy het ook gewys hy is nie lui om donkiewerk by die afbreekpunte te verrig nie.

Die All Blacks se eerste drie het gekom vanweë Frizell se werkverrigting en krag. Hy is ook beloon deur laat in die tweede helfte vir die All Blacks te gaan druk.

Ander uitblinkers was Ardie Savea as baljagter, TJ Perenara het op skrumskakel sy klas gewys en Anton Lienert-Brown was koel soos ’n komkommer toe hy vroeg in die stryd die beseerde Ngani Laumape op binnesenter moes vervang.

Die All Blacks sal egter bekommerd wees oor die fiksheid van die ster-slot Brodie Retallick voor eerskomende Saterdag se toets teen die Springbokke in Wellington.

Maar genoeg van hoe goed die All Blacks was.

Behalwe vir skrumprobleme, wat deur die Poema-kaptein, Agustín Creevy, uitgelig is, was die Argentyne uitstekend op die aanval en het hulle drie keer gaan druk.

Puntemakers:

ALL BLACKS – drieë: Nehe Milner-Skudder, TJ Perenara (2), Shannon Frizell, Kieran Read, Jack Goodhue; doelskoppe: Richie Mo’unga (5); strafdoele: Mo’unga (2).

POEMAS – drieë: Ramiro Moyano, Nicolás Sánchez, Emiliano Boffelli; doelskoppe: Sánchez (3); strafdoel: Sánchez.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters