3 maande gelede
Bholi keer terug na die Kings
Tuis: Thembelani Bholi gaan weer die Kings verteenwoordig. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Southern Kings se lys van spelers groei by die dag. Dit volg nadat hulle nóg ’n ervare voorspeler na die Oos-Kaapse franchise gelok het.

Thembelani Bholi (29) is net een van die nuwe spelers wat hulle eersdaags by die Kings gaan aansluit.

Bholi keer natuurlik huis toe nadat hy ook voorheen vir die Kings in Superrugby diens gedoen het.

Dié speler, oorspronklik van Mooiplaas naby Oos-Londen, het ’n kontrak vir drie jaar onderteken nadat hy vir twee jaar by die Bulls was.

Bholi is die afgelope twee seisoene ’n belangrike speler vir die Bulls.

Hy sal dus ’n onmiddellike impak probeer maak wanneer hy terugkeer om sy tuisspan in die Pro14-seisoen van 2019/20 te verteenwoordig. Hy sluit hom in Julie by die span aan.

So, behalwe die aangekondigde Jerry Sexton (slot) en Courtney Winnaar (heelagter/losskakel), het die Kings ook die volgende spelers tot dusver gewerf: Andell Loubser (heelagter), Cameron Dawson (loskopstut), Christian Ambadiang (vleuel), Erich Cronjé (senter), Gavin Mills (skrumskakel), Ig Prinsloo (vaskopstut), Josh Alderman (skrumskakel), Lu­sanda Badiyana (losvoorspeler) en Siya­bonga Masuku (losskakel).

Uitdraf

Daar is ook van die franchise se ervare spelers wat weer pen op papier gesit het om hulle kontrakte te verleng.

Alandré van Rooyen (haker), Pieter Scholtz (stut), Ruaan Lerm (flank), Sibusiso Sithole (senter) en Tango Balekile (haker) gaan nog lank vir die Southern Kings uitdraf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters