15 dae gelede
Beste span het gewen
MONSTER: Maro Itoje (middel) het die All Blacks laat klippe kou in Yokohama.  ~ Getty Images

YOKOHAMA. – Die All Blacks is deur ’n beter span geklop en het eenvoudig geen antwoord vir Engeland gehad nie.

Só het ’n teleurgestelde All Black-afrigter, Steve Hansen, Saterdag hier gesê ná sy span se nederlaag teen Engeland in die een halfeindstryd van die World Cup.

Engeland het vir ’n groot opskudding gesorg toe hy die gedugte All Blacks voor sowat 72 000 toeskouers uit die rugbyskouspel geboender het.

Die Rose was met 19-7 baas nadat hulle in die rustyd reeds met 10-0 voor was.

Eddie Jones (afrigter) se span het die verdedigende kam­pioen stukkend gespeel.

Engeland kom nou volgende week in die eindstryd welverdiend teen Suid-Afrika of Wallis te staan.

Die bleekbene het in die game van meet af op die bes moontlike manier afgeskop toe die sterk senter Manu Tuilagi binne die eerste twee minute die Rose se enigste drie gaan druk het.

Owen Farrell (kaptein) en sy manne het hierna baie geleenthede geskep om weer punte aan te teken. Hulle het egter nie ál hulle kanse benut nie.

Die All Blacks moes meestal verdedig en die druk probeer absorbeer. Hulle is nie toegelaat om hulle gewone hoëtempo-spel te speel nie.

Jones het oor sy span se ver­toning gesê: “Ons het vandag teen ’n great span gespeel en moes diep delf om met ’n oorwinning uit die stryd te tree.

“Ons het geweet ons moes baie hard van ons lyn af kom om hulle tyd en ruimte te beperk. Ons het dit reggekry en hulle gedwing om foute te maak.”

Die Engelse coach was in sy noppies met sy span se verdediging.

“Die World Cup gaan altyd oor rotsvaste verdediging. Die beste vorm van aanval is verdediging. Ons skep geleenthede vir ons de­fence om te attack.”

Jones het oor die eindstryd gesê: “Ek is baie excited vir die boys. Hulle het regtig baie hard daarvoor gewerk.”

Jones se eweknie, Hansen, was vol lof vir Engeland. “Ek wil Engeland graag hartlik gelukwens. Hulle het ’n ongelooflike game footy gespeel. Op die dag het hulle verdien om die game te wen.

“Jy kan hulle nie ’n halwe kans gee nie, want hulle sal dit vat. Aan die einde van die dag is dit waaroor rugby gaan. Welgedaan aan hulle!”

“Ek is nietemin baie trots op my span. Hulle het ’n ongelooflike job gedoen. Ongelukkig was ons vandag eenvoudig nie goed genoeg nie.

“Ons sal net die hou op die ken moet vat en so ook almal tuis in Nieu-Seeland. Dis beslis ’n bitter pil om te sluk.”

Selfvertroue

Kieran Read, All Black-kaptein, het agterna gesê: “Ons het nie goed begin nie en kon net nie ons game aan die gang kry nie. Ons execution was uiters swak. Dit het ons duur te staan gekom.”

Sy eweknie van Engeland, Farrell, meen: “Die goeie begin het ons baie selfvertroue gegee. Ons het ’n sterk pak voorspelers.

“Hulle het gewys hulle is nie net fisiek nie, maar ook baie vaardig. Hulle het die grondslag gelê vir die sege.”

Puntemakers:

ENGELAND – drie: Manu Tuilagi; doelskop: Owen Farrell; strafdoele: George­ Ford (4).

NIEU-SEELAND – drieë: Ardie Savea; doelskop: Richie Mo’unga.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters