3 maande gelede
Berman oor sy 'groot leemte'
TRAPPIE TÉ HOOG: Vir Flo Simba was dit so naby, maar tog so ver.Foto’s: Gallo Images  ~ 

DIT is ’n yslike leemte in Rodney Berman se 42 jaar as bokspromotor dat hy nie ’n swart Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen kon oplewer nie.

“Dis die harde werklikheid en dis baie hartseer,” het Berman in ’n eksklusiewe onderhoud met Son gesê.

“Ek kan steeds nie glo ek het in 42 jaar nie die voorreg gehad om ’n bokser van kleur se hand omhoog te hou nie.

“Ek kan dit nie verduidelik nie, want die res van Afrika lewer almal swaargewigte van gehalte op,” sê hy.

Die naaste wat Berman aan dié doelwit gekom het, was Flo Simba, wat op Berman se aanbeveling laas jaar finaal uitgetree het nadat hy in sy laaste nege gevegte vyf keer uitgeslaan is.

“Ek het dié drastiese stap gedoen voordat Simba seerkry. Hy is so ’n fantastiese mens,” het Berman daardie tyd gesê.

Die boksers wat Simba in sy laaste gevegte uitgeslaan het, is Francois Botha, Danie Venter, Khayeni Hlungwane en Thabiso Mchuni (twee keer).

Berman is ook gepols oor die droogte van swaargewigte met die gehalte van ou manne soos Jimmy Richards, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jimmy Abbott, Mike Schutte, Robbie Williams en Corrie Sanders.

Geskiedenis

Sedert Sanders se uittrede op 2 Februarie 2008 het die swaargewigafdeling nog nie weer ’n bloeitydperk gesien nie.

Trouens, die gehalte van dié afdeling is tans die swakste in die sport se plaaslike geskiedenis.

“Vandag se swaargewigte in Suid-Afrika is eenvoudig net nie goed genoeg nie.

“Vroeër jare het ons uitstekende boksers in dié afdeling gehad. Veral Corrie Sanders is uiters onderskat.

“Die swaargewigafdeling bepaal altyd hoe gesond en gewild die sport is. Van Muhammad Ali se dae was die wêreld se beste swaargewigte groot trekpleisters.

“Vandag is wêreldboks steeds gesond met swaargewig-trekpleisters soos Tyson Fury, Anthony Joshua en Deon­tay Wilder.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters