2 maande gelede
Benjamin doen beslis nie min
Lisa Benjamin.  ~ Verskaf

LISA Benjamin speel nie rond as dit kom by sport in die Baai nie.

Vir Benjamin van Cleary Estate het dit alles as ’n stokperdjie begin, maar sy is nou een van die hardwerkendste sportvroue in die Baai.

Benjamin is tans die Chilli Boys se MultiChoice Diski Challenge-span se kondisioneringsafrigter.

Die span vaar ook dié seisoen baie goed, veral nadat hy sy breier, Daine Klate, in die middel van die seisoen verloor het.

Voordat die corona-virus alle sokker-aktiwiteite gestop het, was die Chilli Boys goed op koers om moontlik hulle eerste Top 8-plek te beklee.

Sy vertel dat haar stiefpa, Victor Burton, haar aan sokker voorgestel het tydens die bekende Engen Uitklop-toernooi.

In dié tyd het sy met sokker begin help by Hoërskool Lawson Brown.

“Ek het eers net gehelp met logs en uitslae. Daarna het ek tot en met 2014 by die Northern Areas Football Association (Nafa) se Glenville-span uitgehelp en by die gewilde Paasnaweek-toernooi,” het Benjamin laat hoor.

In dié tyd het sy toe ook by die Madibaz betrokke geraak.

In my tweede jaar toe Graham Harrison (coach Poppy) die pos as hoofafrigter by Madibaz Football oorgeneem het, het ek deur middel van ’n sportbeurs vir ’n bachelor’s degree in human movement science begin studeer.”

Weens voltydse werksverpligtinge en studies in dieselfde jaar kon sy nie haar honneursgraad in biokinetika voltooi nie. Tog het dit haar nie gestop om uit te blink nie.

“Ek is aangewys as sportadministrateur van die jaar twee jaar agtereenvolgens, in 2014 en 2015. In 2014 het ek ook by Chippa United as assistent van die mediese span begin, terwyl ek strek en massering gedoen het.”

Behalwe dít is die 26-jarige steeds self nog op die sportveld.

“Ek speel steeds sagtebal vir Saints Softball Club in Gelvandale en die Mandela Bay Softball Association (MSA) District Squad. Ek bestuur ook die Oostelike Provinsie-sagtebalspan en sit op die komitee by MSA as die PRO en help met fondsinsameling.”

Al hou die Chilli Boys haar druk besig, help sy steeds haar plaaslike span, Glenville.

“Ek sit hand by om die Glenville Premier- en reserwespan onder die leiding van die hoofafrigter, Revino “coach Vino” Trumpeter, te help. Dit is vir my ’n eer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters