7 dae gelede
Banyana kan derde een wen
gevaar: Banyana Banyana se Amanda Mthandi skop ’n doel sommer van ver af.Foto: THEO JEPTHA  ~ 

BANYANA Banyana soek vandag in die Wolfson-stadion hulle derde agtereenvolgende Cosafa-vrouekampioenskapstitel wanneer hulle Zambië pak.

Banyana het die eindstryd bereik deur Zimbabwe Donderdag in die Wolfson-stadion gerieflik met 3-1 te klop.

Suid-Afrika het wel ’n paar verdedigingsfoute in die wedstryd begaan.

Desiree Ellis, die Banyana-breier, het gesê hulle sal dít vandag moet regkry.

“Daar is geen plek vir foute nie. Zambië het sover ook ’n hele paar doele in die toernooi aangeteken.

“So, die foute wat ons teen Zimbabwe gemaak het, sal uitgesny moet word,” aldus Ellis.

Sy sê wel haar spelers se selfvertroue is nou nóg hoër ná hulle oorwinning oor Zimbabwe.

“Die manier waarop ons doele aangeteken het, was besonders. Ons het doele gekry van set pieces en dis iets wat baie min gebeur.

“So, ons voel goed oor ons kans teen Zambië vandag.”

Tydens Donderdag se stryd teen Zimbabwe het Banyana se Amanda Mthandi haar vyfde doel van die toernooi aangeteken. Dit was ’n pragdoel van ver wat sy oor die doelwagter se kop geklits het.

Mthandi is ook aangewys as die speler van die wedstryd. Teen Zambië sal sy nét so belangrik wees, sê Ellis.

Dít volg nadat Zambië die span van Botswana in sy halfeindstryd met 4-0 gefnuik het.

“Amanda was uitstekend teen Zimbabwe. Sy het goed gedink om haar doel te vat. Dit is die tipe spel wat ons ook vandag teen Zambië sal moet toepas.”

  • Die eindstryd skop 14:45 in die Wolfson-stadion af.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters