Verlede maand
Baie vrae oor Proteas
Vaarwel: Vernon Philander sê saam met Hayden, sy seun, tot siens aan Nuweland.  ~ Gallo Images

’N TERUGBLIK op die Proteas se seisoen op tuisbodem laat ’n mens met meer vrae as antwoorde aan die einde van ’n lang, uitmergelende seisoen.

Suid-Afrika het van 17 Desember tot 16 Februarie gasheer gespeel vir Engeland nadat hulle in September in hulle agterplaas lelik in die toetsreeks teen Indië verloor het.

Virat Kohli en kie. het die Proteas omtrént gekasty en ál drie toetse gemaklik gewen. Die T20 span onder Quinton de Kock as nuwe kaptein het darem die reeks 1-1 gedeel.

Teen Engeland het Faf du Plessis se Proteas aanvanklik goed begin en 1-0 voorgeloop ná die eerste toets in Centurion. Die Engelse was egter lamgelê deur ’n virus wat in hulle kamp verwoesting gesaai het.

Op Nuweland was die Proteas in die saal, maar swak houe deur hulle mees ervare kolwers, De Kock, Du Plessis en Dean Elgar, het hulle die toets gekos.

’n Inspirerende boulskof deur Ben Stokes op die laaste dag het die wa vir die Pommies deur die drif gekry.

Stokes het sy waarde as all-rounder in Port Elizabeth onderstreep toe sy en Ollie Pope se vennootskap van 203 die tuisspan uit die wedstryd gehaal het.

Engeland het in Joburg weer oorheers en die reeks met 3-1 gewen. Die toets op die Wanderers was Vernon Philander se laaste toets. Sy toetsloopbaan het op ’n lae noot geëindig toe hy ná net 1.3 beurte in die tweede beurt die veld weens ’n dyspierbesering moes verlaat.

In witbalkrieket was Suid-Afrika nou onder die permanente kapteinskap van De Kock meer mededingend, maar SA moes tog in die ODI’s én T20’s die knie voor Engeland buig.

Australië het ook kom kuier en SA in die T20-reeks geklop voordat Suid-Afrika die bordjies in die eendag­reeks verhang het.

De Kock se manne vertrek Sondag na Indië vir ’n blitstoer en sal hulle seisoen op ’n hoë noot wil afsluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters