2 maande gelede
Bafana sonder goalie-breier
soek hulp: Stuart Baxter, Bafana se coach. Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

BAFANA Bafana makeer ’n nuwe goalie coach nadat André Arendse sy pos verlaat het.

Die Bafana-breier, Stuart Baxter, het sy teleurstelling uitgespreek oor die onbeskikbaarheid van sy doelwagter-afrigter net voor hul stryd teen Libië vir die Afrikanasies­beker-toernooi (Afcon).

Arendse het hom om persoonlike redes van Baxter se tegniese span onttrek. Dit is onduidelik wie die 51-jarige breier sal vervang.

Baxter (65) sê op die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se amptelike webwerf: “Dit is regtig hartseer om nie die dienste van André te hê nie, juis omdat ek al so lank met hom saamwerk.

“Dit is selfs moeiliker om hom nie in so ’n kritieke tyd te hê wanneer ons ons Afcon-kwalifiseringsveldtog hervat nie, maar ek moet sy situasie verstaan.

“Ons gaan vandag ons kamp begin. Dit beteken ons het nie tyd nie. Daarom het ek Vrydag ’n plaasvervanger probeer soek.

Assistent

“Dit moet iemand wees wat ek glo die werk vir ons laaste lyn van verdediging sal doen. En sodra ek ’n naam het, sal ons ’n aankondiging maak.”

Intussen is Molefi Ntseki, o. 17-afrigter, vir Saterdag 8 September in die Moses Mabhida-stadion as sy assistent aangewys tydens die botsing teen die Mediterranean Knights. Die afskoptyd is 15:00.

Baxter se seun, Lee, is tans die doelwagter-afrigter by Kaizer Chiefs. Hy is in ’n stadium met die Bafana-pos gekoppel.

Lee het vir Blackburn Rovers, Sanfrecce Hiroshima, Glasgow Rangers, AIK Solna, Malmö FF en IFK Göteborg gespeel.

Sedert hy afrigter geword het, het hy by AIK Solna, Gençlerbirligi, SuperSport United en AGF Aarhus gewerk.

Met so min tyd om ’n plaasvervanger vir Arendse te vind, kan die jonger Baxter dalk net die regte kandidaat wees.

Baxter sr. sal op soek wees na ervaring en iemand wat hy kan vertrou. Sy seun tick basies ál die nodige blokkies vir die job.

Onttrekkings het eintlik normaal geword vir die Bafana-kamp. Dis iets waarna Safa moet kyk om sulke situasies in die toekoms te vermy. – SuperSport.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters