13 dae gelede
Bafana oortuig nié
gefokus: Hamdou Elhouni van Libië plaas Bafana Bafana se Ramahalwe Mphahlele (nr. 6) onder druk.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

NEE wat, Bafana Bafana is net nie goed nie.

Dis ook duidelik dat die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan beslis geen vordering maak met Stuart Baxter, afrigter, wat die sweep klap nie.

Bafana Bafana kon gister in die Moses Mabhida-stadion skaars voordeel trek uit hul tuisveld nadat hulle met 0-0 teen Libië gelykop gespeel het.

Dit was tydens ’n kwalifiseringstryd in groep E vir 2019 se Afrikabekertoernooi.

Baxter se besluit om Bradley Grobler, wat op peil is, eers in die tweede helfte in te span, is maar een van talle besluite waarom hulle ook geen bedreiging vir ’n span ingehou het wat nr. 101 in die wêreld ge-rank is nie.

Boonop is dit duidelik dat Bafana se tegniese span nie weet wie hul beste spelers in sleutelposisies is nie.

Tone

Die tuisspan se Percy Tau was die een positiewe aspek. Hy was weer op sy stukke.

Tau se spoed en aanvallende benadering het die Libiërs beslis op hul tone gehou, maar andersins is daar niks om oor opgewonde te raak nie.

Bafana het ook hul geluk gery toe Abdul Salam se tap Itumeleng Khune geklop het, maar nie die regoppaal nie.

Khune het wel uitstekend gekeer en kon Ali Mohamed se 30 m lange pile driver uithou.

In die tweede helfte het Bafana Bafana ook nie hul balbesit ten beste benut nie.

Baxter-hulle was ook nié slim genoeg en opgewasse om Libië se verdedigingslinie te penetreer nie.

En met Nigerië wat die Seychelle met 3-0 in die ander stryd in die groep geklop het, is kwalifikasie vir Suid-Afrika beslis nié ’n uitgemaakte saak nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters