21 dae gelede
Aussies wen foute-stryd
HET JOU! Kurtley Beale word vasgevat.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE Wallabies lyk nie juis soos ’n sterk aanspraakmaker op rugby se Wêreldbeker nie, terwyl Argentinië ernstige skrumprobleme het ag weke voordat die skouspel in Japan begin.

Dit was gister in Brisbane die gewaarwording toe die Wallabies met 16-10 gewen het.

Die wenspan was in die rustyd met 10-3 voor.

Dit was net die Wallabies se vyfde toetssege in 15 probeerslae.

Die Aussies het dié oorwinning broodnodig gehad – veral ná hulle nederlaag verlede naweek op Ellispark teen Rassie Erasmus se sogenaamde naasbeste Springbokke.

Die Wallabies se kaptein, Michael Hooper, sê hy en sy span is verlig dat hulle weer aan die wenkant was ná hulle nederlaag teen die Bokke.

“Ons besef die Poemas het ’n lang reis gehad tot hier, maar ’n sege was nogtans ononderhandelbaar vir ons.

“Dit beteken vir ons baie vir ons voorbereiding vir die res van die seisoen,” meen Hooper.

Argentinië het, volgens die oud-Bok-afrigter Nick Mallett, groot probleme in die skrums.

Gesag

Die Poemas het jare lank die mees gevreesde skrum in wêreldrugby gehad, maar sukkel skielik in dié afdeling van die spel.

“Die Poemas is vyf keer in die skrum opgeblaas teen ’n Wallaby-agtal wat selde gesag afdwing.

“As die Wallabies die Poemas se baas is in die skrums, moet jy besef watse probleme die Argentyne het – veral aan die loskopkant,” sê hy.

Die Poemas het egter gister heelwat­ kanse gehad.

In die eerste helfte moes hulle in ’n stadium net oor die doellyn stap, maar het die bal verloor.

Die Poemas het veral in die eerste helfte gevaarlik gelyk op die aanval, maar foute en swak hantering het albei spanne verhoed om meer punte aan te teken. Dit moet vir albei breiers ’n bron van kommer wees.

Op 10 Augustus speel die Wallabies gasheer vir die All Blacks, terwyl die Springbokke na Argentinië reis.

Die Bokke bly in Nieu-Seeland aan totdat hulle die lang tog aandurf.

Wallabies – drie: Reece Hodge; doelskop: Christian Lealiifano; strafdoele: Lealiifano (3).

Poemas – drie: Facundo Isa; doelskop: Joaquín Díaz Bonilla; strafdoel: Nicolás Sánchez.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters