27 dae gelede
‘Ash’ gee jonges hoop
Slyp-slyp! Hier sit Ashley Olivier (pet) sy jonges deur hulle paces.  ~ Melinda Stuurman

JY KAN jou net indink wat Ashley Olivier en sy organisasie, Ash’pira­tional Sport Development, nog kan doen as hy ondersteuning en borgskappe sou kry vir sy organisasie...

Maar hy laat dít hom nie terughou om te help om ’n verskil in sy gemeenskap te probeer maak nie.

’n Ernstige besering het die amateurklub FC Kapstadt se 29-jarige, passievolle sokkerspeler se tyd op die veld ietwat voortydig tot ’n einde gebring.

En dít het ook die deure oopgemaak vir Olivier om sy liefde om ’n verskil te maak met sy passie, sokker, in aksie om te sit.

Olivier is iemand wat nie net die talk talk nie, maar dit ook walk.

Dis in sy dwelm- en bendegeteisterde gebied, Valhalla Park, waar “Ash” of “Mr. Fitness”, soos almal hom in sy woonbuurt ken, die laaste maande baie ure insit om seker te maak hy bied die laities van sy buurt meer as net alternatiewe in die lewe.

“Jy kan ook nie verwag dat elke laitie wat deur die veld se hekke kom, iets in sy maag sal het nie,” verduidelik Olivier. “So, dis dinge wat ek eers probeer uitsort, want wie kan op ’n honger maag speel?

“Ek weet wat dit is as daar niks op die tafel is nie.

“Wat ons tot ons beskikking het om te eet, deel ons met almal, want dis hoe ons die family ties behou. Ons hier by Ash’pirational is ’n familie wat aanhoudend groei.”

Van humble beginnings 12 maande gelede is daar meer as 30 laities wat baat vind by Olivier se organisasie se onselfsugtige werk.

Tesame met volunteer coaches soos Kimberley Hendricks en ander probeer hulle ’n holistiese sport­benadering toepas.

“Ek kon lankal hand-outs gekry het, maar dis nie ek nie.

“Ek wil eerste verseker dat ons alles in orde het. Ons het ook met die Stad opgepaar vir sy Jeugdag in 2019 toe ons die Village Academy van Strandfontein betrek het.

“Ons kit launch was ook ’n reusesukses. Ek gee nie om om van my eie geldjies in te pomp nie.

“Ek werk telkens oortyd en na­weke om seker te maak ons kan iets bereik met finansiële ondersteuning

“Dis harde werk, maar om die verandering in die laities se uitkyk op die lewe te sien is priceless. Van hulle kan nog eendag goeie dinge bereik,” voeg Olivier by.

Verwelkom

Hy het sy skill laas jaar verder ontwikkel toe hy die fyner kunsies by Farouk Khan se Stars of Africa Academy gaan leer het. Hy het by Kaizer Chiefs se tuiste in Naturena, Johannesburg, gaan inloer.

“Dit was ’n great experience en ek is met ope arms verwelkom. Alles is só professioneel en ek sal beslis van dié dinge met my laities kan toepas.

“Maar dis nie net sokker nie – ons embrace en speel alle sport­kodes, afhangende van watter sportseisoen dit is.

“Maar sokker bly die groot drawcard om die laities weg van die euwels te hou,” sluit Olivier af.

  • Belangstellendes kan Olivier by 081 043 0041 kontak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters