4 maande gelede
Andy gereed om sy broer, Jamie, te pak
’n goeie span: Leon Smith (links) praat met Jamie Murray, wat moontlik sy broer kan aanvat.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

ANDY Murray sê dit voel “vreemd” dat hy en sy broer, Jamie, albei in die Wimbledon-dubbelspel is, maar nie saam speel nie en mekaar moontlik in die derde ronde kan pak.

Murray speel met die Fransman Pierre-Hugues Herbert in die dubbelspel en maak sy terugkeer na tennis nadat hy vyf maande buite aksie was.

Murray het ’n heupoperasie ondergaan wat dreig om sy loopbaan tot ’n einde te bring. Dis dalk die laaste keer dat hy aan Wimbledon gaan deelneem.

Pret

Murray het gesê ’n oefensessie teen die vyfde gekeurde Jean-Julien Rojer en Horia Tecau, het nie goed verloop nie.

“Ek hou baie van hom (Herbert). Hy is ’n goeie speler. So, ek is seker ons sal pret hê,” het hy gesê.

“Ek hoop net ons speel ’n bietjie beter wanneer die toernooi begin.”

Murray het die perfekte terugkeer na tennis gemaak deur die dubbelspeltitel by Queen’s met Feliciano López te verower voor ’n eerste­ronde-nederlaag met Marcelo Melo in Eastbourne vroeër dié week.

Murray en Herbert pak Woensdag in die eerste ronde die onbekende paar van Marius Copil (Roemenië) en Ugo Humbert (Frankryk).

Die aandagtrekker is egter die moontlike derderonde-ontmoeting met Jamie en sy nuwe Britse vennoot, Neal Skupski.

Die broers kon saamgespeel het nadat Jamie ná die Franse Ope van sy vennoot Bruno Soares gesplit het. Die onsekere status van Andy se fiksheid het egter daartoe gelei dat hulle daarteen besluit het.

“Soos die toernooi naderkom, dink ek meer daaroor. Dit sou lekker gewees het om saam met hom te speel,” aldus Andy. “Dit voel ietwat vreemd dat ons albei in die dubbelspel is, maar nie saam speel nie.

“Maar dit sal ook cool wees om teen mekaar te speel. Dit sal ’n nice memory wees om te hê. Hoewel dit moeilik sal wees, sal dit sekerlik lekker wees as ons albei die derde ronde bereik.”

Andy het genoem dat hy verskeie potensiële gemengde dubbelspelvennote kon kies, maar weens sy fiksheidsvlak was hy onseker of hy aan dié kategorie moes deelneem. – SuperSport.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters