2 maande gelede
Amla is SA se groot vraagstuk
ERVARE: Hashim Amla laat die keurders kopkrap. Foto:GALLO IMAGES  ~ 

GAAN Hashim Amla na die Wêreldbeker-kriekettoernooi toe of nie?

Dit is die grootste vraag wat beantwoord sal word wanneer Suid-Afrika se groep van 15 spelers vir die groot toernooi in Engeland en Wallis Donderdag aangewys word.

Die Proteas se afrigter, Ottis Gibson, skaaf al ’n geruime tyd sy groep reg en in die proses het die moontlike 15-tal baie duidelik na vore getree.

Amla se posisie is egter onseker.

Dié veteraan het vanjaar nie die wêreld aan die brand gekolf nie en is boonop nie ’n goeie veldwerker nie.

Op sy beste is hy egter ’n wedstryd-wenner. Die Proteas kan sy ervaring in so ’n groot toernooi nuttig inspan.

Reeza Hendricks sal waarskynlik die ongelukkige kolwer wees wat terugstaan as Amla wel die groen lig van Gibson en die keurders kry.

Die ander kwessie waaroor Gibson en kie moet besluit, is die beseerdes.

Die mediese span werk hard daaraan sodat die veelsydige JP Duminy (skouer) en die snelboulers Lungi Ngidi (rug) en Anrich Nortjé (skouer) fiks is om na die toernooi te gaan.

Hulle beserings is nie ernstig nie en daar is darem kans tot 23 Mei om beseerdes nog te vervang nadat die groep aangewys is.

Die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, maak nie ’n geheim daarvan dat die boulaanval sy span se sterk punt is nie.

Wat die kolfwerk betref, het Gibson hard daaraan gewerk om ’n aanvallender benadering onder die Proteas te vestig.

Du Plessis meen die Proteas het groot vordering met hulle kolfwerk getoon, maar dit sal belangrik wees dat die senior kolwers op hulle beste is.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat die keurders met ’n skok sal kom – dit is nou net of Amla saamgaan of nie.

Ons hoef nie meer te lank te wag om uit te vind nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters