3 maande gelede
Amajita net nie goed genoeg nie
aksie: Amajita se goalie, Khulekani Kubheka (nr. 20), is op sy stukke tydens die span se gelykop uitslag van 1-1 teen Portugal.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

NEE WAT!

Dit lyk nié asof die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), Danny Jordaan, se Vision 2022 die vrugte sal afwerp wat hy die nasie belowe het nie.

Dis bitter moeilik om positief te bly nadat die groep wat Jordaan se verwagtinge en drome moet vervul, lelik drooggemaak het by die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir o. 20’s in Pole. Dis toe Thabo Senong, afrigter, en sy troepe die houtlepel-prys gekry het.

Amajita het darem hulle eerste punt van die toernooi ingesamel toe hulle in ’n groep F-stryd met 1-1 teen Portugal gelykop gespeel het.

Maar die feit dat Senong-hulle nié een stryd kon wen óf teen Argentinië óf Suid-Korea nie, dui aan die land se sokkertoekoms lyk maar beroerd.

As Jordaan-hulle regtig ernstig en eerlik is oor dié sport, is dit nou die tyd om dit te bewys.

Daar móét harde vrae gestel word. Jordaan moet eerstens begin met die samestelling van die span.

Party mense sal wil aanvoer Senong het lojaal teenoor sy troepe gebly met die spelers wat hulle na die skouspel geneem het, maar selfs dié groep het nie die reënboognasie verteenwoordig nie.

Dis omdat sokker mos oral in die land gespeel word behalwe in die Kaap.

Dat Senong net een Kapenaar – Keenan Abrahams – vertrou het om vir die land diens te doen, is skandelik.

Senong verdien elke bietjie teleurstelling en skande – hy het dit mos op homself gebring.

Ál ligpuntjie was die vertoning van Amajita se goalie, Khulekani Kubheka, wat skitterend was om Suid-Afrika darem sy eerste punt in die sak te bring.

Kubheka het uitstekende keerwerk uit­gevoer, veral toe hy Jota se penalty in die tweede helfte gekeer het.

Dít het beteken dat Portugal ook nie na die volgende ronde kon deurdring nie.

Maar dis geen troosprys vir die reënboognasie nie wat beslis veel meer verdien het.

As die verwagtinge en hoop van Vision 2022 op Senong se Amajita-span rus, lyk dinge maar droewig.

Die feit van die saak is Amajita was nie goed genoeg nie.

Ons Amajita het hier en daar tydens hulle drie wedstryde oomblikke van veelbelowendheid getoon, maar sokkerwedstryde word oor 90 minute gespeel.

Kardoes

Totdat die regte individue met opregte bedoelings en geen by­motiewe nie ingespan gaan word, sal ons sokkerspanne maar net vir spek en bone speel.

Sien, wat baat dit jy lig elke keer die nasie se hoop op om vir groot toernooie te kwalifiseer en dan kan jy niks bewys nie?

Dis soos ’n groot kardoes met veels te min lekkers daarin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters