Verlede maand
‘Almal moet aktief raak’
maak ’n verskil: Gary Dolley is benoem.  ~ 

‘DIÉ toekenning sal gebruik word om die gemeenskap te dien.”

Só voel die Gelvandale-krieketklub se president, Gary Dolley oor sy benoeming vir die SA Sport Awards se sportadministrateur van die jaar.

Dolley, wat ook SA Hockey se projekbestuurder is, sê hoewel so ’n groot nasionale benoeming ’n groot eer is, gaan dit daaroor om te verseker dat die gemeenskappe hulp ontvang om hulle te bevorder.

Dolley het die program Modified­ Sports begin, wat beoog om benadeelde gemeenskappe op te bou.

“Dit gaan daaroor om almal weer aktief te kry deur gebruik te maak van wat beskikbaar is. Ons wil weer soos in die ou dae in die straat speel,” sê Dolley.

Hy onthou toe kinders in die ou dae buite touchies gespeel het as dit soos nou Rugby World Cup was.

“Kinders speel nie meer in die straat nie, want die gemeenskap is nie gesond genoeg om dit toe te laat nie. Dié program beoog om dit alles te verander.”

Dolley verduidelik dat die Modified Sports-program gebruik maak van enige materiale soos ou plastiek en toerusting soos kolwe en balle om mee te speel.

“Ons areas het nie altyd die velde en die toerusting vir sport nie, maar die doel van die program is om te wys is dat jy nie al die goed nodig het as die doel is om net aktief te wees nie. Die program se mikpunt is nie om sportsterre te kweek nie, maar om almal in die gemeenskap betrokke en aktief te kry.”

Sy inisiatief het in die laaste twee jaar 400 skole in 19 distrikte bereik. Volgens Dolley beoog hulle dat die projek teen 2022 in ál 52 distrikte van die land sal wees.

Hy sê die program het ook sover 1 500 afrigters landwyd gekweek.

Dit is duidelik ’n passie vir Dolley – een wat al vroeg begin het.

Dolley vertel hy was reeds in sy skooldae by sportadministrasie betrokke.

“Ons het eintlik onder die toesig van die onderwysers by Chapman reeds ons eie sport hanteer en dis waar dit begin het vir my. Selfs met klubsport ná skool, soos sokker, rugby en hokkie, is ons aangemoedig om deel te neem aan die klubs se vergaderings.”

Hy sê in sy dag was daar net soveel probleme soos nou, maar daar was nie tyd om daarby betrokke te raak nie.

“Ons het ook gangs en geweld gehad, maar omdat die meeste by iets in die skool of gemeenskap betrokke was, was daar nie baie kans om deel te word daarvan nie. Dit is iets wat ons huidige skole en gemeenskappe verloor het.”

Reis

Dolley sê gemeenskappe het natuurlik oor die jare verander en dit is waarom Modified Sports so belangrik is.

“Die program kyk na wat die toestande by die skool is en maak gebruik van wat daar is om die leerders aktief te kry.

“Die beste is dat dit alles tydens skoolure gebeur. So, die leerders is reeds by die skool en dis nie nodig om heen en weer reis na die skool nie.”

Die SA Sport Awards vind 10 November in Durban plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters