16 dae gelede
Alles loop reg in Toyota
DEFTIG: Warrick Gelant pass die bal in kontak na Kwagga Smith aan in die World Cup game tussen Suid-Afrika en Namibië in Toyota City. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

TOYOTA CITY. – Dit was eenrigtingverkeer voor sowat 40 000 toeskouers hier in die Toyota Stadion.

Soos verwag was Suid-Afrika heeltemal te sterk vir Namibië in ’n groep B-kragmeting van die World Cup in Japan.

Die Bokke het Namibië met 57-3 afgeslag nadat die rustydtelling reeds 31-3 in hulle guns was.

Rassie Erasmus (afrigter) se manne het die vaste fasette heeltemal oorheers. Hulle het die Namibiërs onder geweldige druk geplaas, nie net in die skrums en die lynstane nie, maar ook by die afbreekpunte.

Gemaklik

Suid-Afrika het altesaam nege drieë gedruk. Ál wat die Welwitschias vir hulle moeite kon wys, was ’n strafdoel deur hulle losskakel Cliven Loubser.

Vir die Bokke het Frans Steyn skerp gelyk op binnesenter. Dit was die eerste keer in sewe jaar dat hy weer die Bokke se nr. 12-trui oor sy kop getrek het.

Die 32-jarige boorling van Aliwal-Noord het baie gemaklik met die bal in die hand gelyk. Hy het nie net die bal sterk gedra nie, hy het ook spasie geskep vir spoedvrate soos Makazole Mapimpi, S’bu Nkosi en Warrick Gelant aan sy buitekant.

Die Bokke se vertoning was egter nie perfek nie. Schalk Brits (kaptein) en sy manne het ’n ruk gevat om hulle voete te vind. Hulle het by tye verkeerde opsies gekies en onnodige hanteerfoute begaan.

En al het die Bokke die game oortuigend gewen, moet die oorwinning in perspektief geplaas word.

Phil Davies (afrigter) se span beklee tans maar die 23ste plek op die wêreldranglys, met Suid-Afrika wat tans in die 5de plek is.

Erasmus kan egter tevrede wees met die vertoning van sy sogenaamde tweede span. Die eksperimentele losvoorspeler-kombinasie van Brits op agsteman, Francois Louw op 6 en Kwagga Smith op 7 het goed gewerk.

Dit was ook baie duidelik dat die Bokke baie diepte het, veral in die slot-posisie en in die voorry.

Lood de Jager het deurgaans beïndruk met sy werk by die afskoppe en sy lynstaanwerk. Hy is agterna welverdiend as die amptelike speler van die wedstryd aangewys.

Die Bokke reis Sondag na Shizuoka waar hulle Vrydag in die Ecopa Sta­dion teen Italië (11:45 SA tyd) te staan kom.

Italië het Namibië laas week met 47-22 kafgedraf.

Die Azzurri gaan dus heeltemal ’n nuwe uitdaging vir die manne in groen en goud bied.

Namibië se volgende game is volgende Sondag teen Nieu-Seeland.

Puntemakers:

SUID-AFRIKA drieë: Bongi Mbonambi (2), Francois Louw, Makazole Mapimpi (2), Lukhanyo Am, Warrick Gelant, Siya Kolisi, Schalk Brits; doelskoppe: Elton Jantjies (6).

NAMIBIË strafdoel: Cliven Loubser.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters