8 dae gelede
All Blacks is tevrede met brons
Gelukkig: Ryan Crotty en Ben Smith van Nieu-Seeland vir hulle sege. Foto: Getty Images  ~ 

TOKIO. – Die All Blacks het gister weer hier in die Tokio Internasionale Stadion uitgesteek. Die régte All Blacks ...

Die driemalige wêreldkam­pioen het weer sy staal gewys nadat Engeland hom laas week met 19-7 in die een semi van die World Cup geklop het.

Die All Blacks het Wallis met 40-17 in die bronsfinaal kafgedraf nadat hulle met die rustyd met 28-10 voor was. Die Kiwi’s het vyf drieë teenoor die Rooi Drake se twee gedruk.

Daar was duidelik minder druk op albei spanne as in die semi’s. Dit het tot opwindende sjampanje-rugby voor ’n skare van sowat 50 000 gelei.

Bewys

Steve Hansen het in sy laaste game in beheer van die All Blacks besluit om ervare spelers soos Ben Smith, Sonny Bill Williams, Ryan Crotty en Rieko Ioane as agterspelers by die beginspan in te sluit. Álmal het hand opgesteek en gewys húlle moes dalk liewer laas week teen Engeland gespeel het.

Onder die voorspelers het Brodie Retallick weer bewys hy is een van die beste slotte ter wêreld. Hy is ook as speler van die wedstryd aangewys.

Vir die Drake was die vleuel Josh Adams uitstekend. Hy het ná die rustyd sy sewende drie van die World Cup gedruk. Net Jonah Lomu, Bryan Habana en Julian Savea met ag drieë het meer gescore.

Die All Black-kaptein, Kieran Read, was uiteraard bly dat hulle die wêreldskoupel op ’n wennoot kon afsluit.

“Ek is baie trots op die manne. Hulle het vanaand gewys wat dit is om ’n All Blacks te wees,” het hy gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters