2 maande gelede
Ag, aikôna, Bokke
punte! Michael Hooper druk die eerste drie van die kragmeting vir Australië teen die Bokke in die Sancorp-stadion. Links is Elton Jantjies wat nie betyds kon keer nie.Foto’s: getty images  ~ 

FOUTE, foute en nóg meer foute!

Dít was gister die hartseerverhaal van Rassie Erasmus (afrigter) se Springbok-span.

Sedert Erasmus as Bokbreier oorgeneem het, kon sy span nog nie ’n toets oorsee wen nie.

En gister was dit weer so vir Erasmus toe sy span met 18-23 teen die Wallabies in Brisbane vasgeval het.

Dat Australië met ’n oorwinning uit die stryd getree het al het hy nie goed gespeel nie, spreek boekdele van hoe swak die Bokke was.

Dit was boonop ’n erg verswakte Wallaby-span wat wêreldklas-spelers soos Israel Folau en David Pocock weens beserings verloor het.

Suid-Afrika se verdediging, veral in die wye kanale, was gister net nie goed genoeg nie.

Die Bokke se vrot verdediging is iets wat Erasmus en Jacques Nienaber, sy verdedigingsghoeroe, gou sal moet regstel. Die frustrerendste aspek van die Bok-vertoning was die aantal basiese foute wat hulle gemaak het. Dit is foute was ’n mens nie eens van ’n laerskoolspan verwag nie.

Faf de Klerk het ’n nagmerrie in die nr. 9-trui beleef.

Hy het telkens te lank gevat om die bal aan sy agterspelers uit te gee.

Dieselfde geld Willie le Roux in die laaste vesting wat nie eens die bal kon vang om dit aan Aphiwe Dyantyi en Makazole Mapimpi te pass nie.

Skrums

Nadat Mapimpi ’n mooi drie gedruk het, is hy weens ’n besering vroeg in die game deur Cheslin Kolbe vervang.

Die Bokke se voorspelers het nie te sleg in die skrums gevaar nie. Hulle het egter weer te veel blapse in die lynstane gemaak.

Dit het Michael Hooper, Wallaby-kaptein, se span die geleentheid gegee om twee verspotmaklike drieë in die eerste helfte te druk.

Die rustydtelling was 18-17 in die Bokke se guns.

Sy eweknie, Siya Kolisi, en sy manne kon ongelukkig nie ’n manier vind om ’n enkele punt in die tweede helfte aan te teken nie.

In die doodsnikke het hulle ’n kans gehad om die kastaiings uit die vuur te krap deur te druk, maar hulle kon eenvoudig nie hul kanse benut nie.

Soos die Bokke gister gespeel het, face Erasmus se span volgende week ’n helse drag slae wanneer hulle teen die All Blacks in Wellington te staan kom.

Puntemakers:

AUSTRALIË – drieë: Michael Hooper, Matt Toomua; doelskoppe: Toomua (2); strafdoele: Reece­ Hodge, Toomua (2).

SUID-AFRIKA – drieë: Bongi Mbonambi, Makazole Mapimpi; doelskop: Elton Jantjies; strafdoele: Jantjies (2).

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters