6 dae gelede
Aerios sue vir miljoene
SOEK BLOED: Costas Constantinou, uitvoerende hoof van Aerios. FOTO VERSKAF  ~ 

DIE mediamaatskappy Aerios is op die oorlogspad.

Luidens hofdokumente in Son op Sondag se besit, het Aerios die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) op 17 Junie 2020 vir ’n allemintige R183 miljoen gedagvaar.

Die unies se regslui moet nou Maandag in die Kaapstadse hooggeregshof verskyn.

Aerios voer aan hy is dié yslike bedrag geld aan inkomste kwyt weens die verlies aan eksklusiewe advertensieregte binne Nuweland en die Cape Town Stadium.

Dít is indien die WP ’n stadion-skuif maak.

Die maatskappy is nou opnuut besig om sy hande op daardie geld te probeer kry.

Saru is die eerste respondent gemaak in die eis om skadevergoeding.

Aerios beweer dat Saru, die nasionale beheerliggaam, sy mag herhaaldelik misbruik het.

Geïgnoreer

Dit is na bewering gedoen deur die WPRVU te dreig dat hy nie groot toetswedstryde, insluitende die een tussen die Springbokke en All Blacks in 2017, aan hom gaan toeken nie.

Aerios beweer sy regte sluit toetswedstryde tussen Januarie 2012 en Desember 2023 in.

Saru het egter die regte geïgnoreer wat die WP aan Aerios gegee het.

Saru het eerder uitsaai- en digitale ooreenkomste met SuperSport gesluit.

Daar is ook ooreenkomste aangegaan met Saru-borge wat advertensieregte gekry het vir wedstryde wat by die provinsiale unies aangebied word.

Dit beteken dat Saru vir SuperSport en borge kommersiële regte gegee het wat die WP reeds kontraktueel vir Aerios gegee het.

Saru het Aerios se bewerings by monde van hul woordvoerder verwerp.

“Ons ontken Aerios se aantygings ten sterkste. Gegewe die aard daarvan sal die kwessie deur ons regspan gehanteer word.

“Ons sal verdere kommunikasie van Aerios deur die toepaslike regskanale beantwoord,” het die woordvoerder gesê.

Zelt Marais, die president van die WPRVU, het Donderdag in ’n verklaring bevestig dat sy unie beoog om ’n lening van meer as R112 miljoen met Dream World Investments aan te gaan.

Dit is om skuld aan Remgro en Investec terug te betaal

Die WPRVU se klubs moet egter eers volgende week stem of hulle die ooreenkoms met Dream World gaan aanvaar.

Marais sê hulle steur hulle egter nie veel aan die dagvaarding van Aerios nie.

Volgens hom is dit nie meer van toepassing op die WPRVU nie omdat die unie se sakevleuel destyds bankrot verklaar is toe Aerios sy oorspronklike eis aan die unie in die hof gemaak het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters