4 maande gelede
7 Marathons in net 7 dae
WOW! Elton Davids en Sam Appalsamy lyk laas week heel tevrede nadat hulle die laaste van hulle marathons voltooi het. Foto: ADNAAN MOHAMED  ~ 

DIS vir enige persoon ’n besonderse prestasie om ’n marathon suksesvol te hardloop.

Maar om sewe marathons in sewe dae af te lê, is absolute waansin.

Dít is presies wat mense gedink het toe Elton Davids van Kaapstad en Sam Appalsamy van Durban besluit het om sewe marathons in sewe SA provinsies in sewe agtereenvolgende dae aan te durf.

Niemand het eintlik gedink dit is moontlik nie.

Die twee langasems het almal egter verkeerd bewys toe hulle ’n ongelooflike 294 km binne ’n week suksesvol afgelê het.

Hulle het dus ’n afstand van 42,2 km – ’n standaard-marathon – elke dag vir sewe dae in ’n ry kafgedraf.

Volgens Davids is die doelwit om bewustheid te skep rondom die lot van SA atlete wat nie genoeg geld het om hulle land te verteenwoordig nie.

Hy sê: “Ons beste atlete het dikwels nie die geld om op die hoogste vlak mee te ding nie.

Met dié inisiatief beoog ons om soveel moontlik by te dra om hulle finansiële las te verlig.”

Appalsamy en Davids het mekaar vroeër vanjaar by die Comrades Marathon se ekspo in Durban ontmoet.

“Ek het vir Elton gesê ek is besig met ’n projek om sewe marathons op sewe vastelande te af te lê,” vertel Appalsamy.

Oortuig

“Hy het met die idee vorendag gekom om sewe marathons in sewe dae net in die Kaap te hol.

“Ek het hom oortuig om dit eerder in verskillende provinsies in Suid-Afrika in ’n week af te lê.

“Hy het dit as malligheid beskryf, maar ons het steeds voortgegaan en die hele projek in net een week saamgestel.”

Hulle het in Kimberley begin. Daarna het hulle na die Noordwes-provinsie gegaan en om die Hartebeespoortdam gehol.

Hulle het toe Bloemfontein toe gevlieg en daar gehardloop.

Toe is hulle na Appalsamy se tuisdorp, Durban.

Daarna het hulle in ’n koue, nat Port Elizabeth gehardloop voordat hulle teruggevlieg het na Johannesburg om in Sandton te hol.

Laas Sondag, op die sewende dag, was hulle terug in die Kaap.

Daar het hulle aan die halfmarathon (21,1 km) by die Hewat-klub se Festival of Running deelgeneem. Hulle moes dit back-to-back doen om die volle marathon-afstand in te kry.

Daarvoor moes hulle 04:00 begin om betyds terug te wees om 07:30 saam met die amptelike 21,1 km-wedloop weg te spring.

 

’n Donasie van R294 vir elke kilometer wat afgelê is, kan by allmysports-sa.com of 777madfoundation.co.za gemaak word.

VREUGDE: Elton en Sam word aangespoor by die eindpunt laas week in Seepunt.Foto: ABPhotoZA
Foto:
Foto:
WOW! Elton Davids en Sam Appalsamy lyk laas week heel tevrede nadat hulle die laaste van hulle marathons voltooi het. Foto: ADNAAN MOHAMED
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters