4 maande gelede
Weinig erkenning vir talentvolle muso
snaarman: Royston Skippers is die eienaar van die band Tusmart, wat hoofsaaklik op gesellighede en paarties speel. Foto’s: salmon smith  ~ 

DAAR is ’n spreekwoord wat lui: “ ’n Profeet word nie in sy eie land geëer nie.”

’n Mens wonder of dit nie ook die geval met die Suid-Afrikaanse jazz-musikant Royston Skippers is nie.

Baie min is plaaslik oor die 57-jarige musikant geskryf of gesê, wat nog dat sy songs op radiostasies gespeel word.

En tog is Royston die enigste SA musikant ooit aan wie ’n Akademia Award toegeken is. Dit was in 2016 in Los Angeles vir sy song “Made up My Mind”.

Royston sê: “Dis vir my baie hartseer dat ek nie in my eie land vereer is nie. Baie mense in die musiekbedryf het uit afguns teen my gedraai ná daai toekenning.

“Daar is selfs mense wat nou nog skepties is oor die toekenning.”

Ontdek

Royston is gebore in Mowbray, het grootgeword in Athlone en woon nou in Belhar.

Sy talent is al op laerskool ontdek. Hy het toe in die skoolkoor gesing en deelgeneem aan die jaarlikse eisteddfod en talentkompetisies.

Op hoërskool het hy klassieke kitaarlesse geneem by die bekende Alistair Izobell se pa, John Stanley Izobell.

Hy het later oorgeslaan na popmusiek en veral Lionel Richie covers gesing.

Hy is drie maande opgelei in die jazz-ghoeroe Alvin Dyers­ se Jazz Workshop in Kaapstad.

Royston het in 1977 ’n lid van die gospel/jazzband Soul Seekers geword.

Die band het oral opgetree – van kerke en koffiekroeë tot selfs in die Joseph Stone-ouditorium in Athlone.

Nadat Sole Seekers opgebreek het, het Royston en drie ouens die gospel band Choice gestig.

In 1989 het hy hom by die band Flipside aangesluit.

Royston het die band oorgevat toe die eienaar na Nieu-Seeland geëmigreer het.

Hy het die band hernoem na Tusmart. Dié speel deesdae hoofsaaklik op gesellighede en paarties.

Royston vertel: “Made up My Mind was my debuut-album. Dit het 10 songs op. Die bekende kitaarspeler Allou April het dit vervaardig.

“Nadat ek ’n kort stukkie van die titelsnit op Facebook gepost het, het Lance Windhurst van Vibe XR Radio Detroit my gekontak en my aangeraai om dit in te skryf vir die Akademia.

“ ’n Maand later is ek laat weet dis genomineer vir die kategorie best jazz song van ’n unsigned musician wêreldwyd.

“ ’n Week daarna is ek laat weet my song is ’n wenner.

“Dis toe in 14 lande gespeel, maar nie in Suid-Afrika nie.

“Eers ná die toekenning het plaaslike radiostasies daai song en van die ander begin speel.”

Royston is ook ’n gekwalifiseerde mediese orthotist wat al sy eie praktyk gehad het.

Hy werk aan ’n album wat hy in September wil uitreik.

  • Bel Tusmart by 083 338 7967 as jy die band wil bespreek.
  • Laat weet Salmon Smith van jou storie by smithsalmon@yahoo.com.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters